Plaasvervanger klop boks-legende Pacquiao

Manny Pacquiao voor die WBA-weltergewigtitel teen Yordenis Ugas by die T-Mobile Arena in Las Vegas, Nevada in die VSA (21 Augustus 2021) (Foto: Steve Marcus/Getty Images/AFP)

Boks-ondersteuners kan met reg vra of dit tyd is vir die 42-jarige legende Manny Pacquiao om sy bokshandskoene finaal op te hang.

Die Kubaan Yordenis Ugas het die Filippynse meester, wat wêreldtitels in agt gewigsafdelings gewen het, eenparig met punte in Las Vegas geklop. Ugas is eers vroeër hierdie maand nader getrek vir die geveg nadat Errol Spence Jr moes onttrek weens ʼn oogbesering.

Pacquiao was twee jaar laas in die kryt en hy het sy volle 42 jaar gelyk teen die 35-jarige Ugas. Die Kubaan het Pacquiao na willekeur raak geslaan om sy WBA-weltergewigtitel te behou. Ugas het die titel gekry nadat dit vroeër vanjaar by Pacquiao afgeneem is omdat hy vir te lank nie geboks het nie.

Pacquiao het ná die geveg gesê hy het gesukkel om verstellings tydens die geveg te maak. “My bene was styf. Ek is jammer dat ek vanaand verloor het, maar ek het my beste gegee.”

Ugas het Pacquiao bedank vir die geleentheid om teen hom te kon boks. “Ons het net twee weke gehad om voor te berei, maar ek het na my helpers in die hoek geluister en dit het alles goed uitgewerk. Ek het jou gesê ek is die WBA-kampioen en ek het dit vanaand gewys.”

Pacquiao se loopbaan strek nou oor 72 gevegte en hy is reeds 26 jaar in die kryt. Hy was nog net agt keer aan die verloorkant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.