Plankekoors g’n bepalende faktor in ‘Boxop II’

Ross Learmonth en Kevin Fraser is volgende deel van die Boxop-aksie. Foto: Verskaf.

Tian Fick, Suid-Afrika se swaargewigbokskampioen, was destyds in Francois van Coke se hoek toe hy vir Derick Hougaard in die Boxop-kryt ore aangesit het.

Nou is die 37-jarige Kapenaar weer deel van die aksie waar hy vir Kevin Fraser touwys maak in sy komende geveg teen Ross Learmonth.

Jip, dames en here: Boxop II Learmonth teen Fraser is op 6 November hier.

En volgens Fick is Fraser se vuishoue nie iets om oor te lag nie – die komediant beskik ongetwyfeld oor die vermoë om ’n hele paar mense te verras.

Tian Fick (regs) maak vir Fraser in die bokskryt touwys. Foto: Verskaf.

“Kevin oefen hard, hy neem dinge ernstig op en hy skerm teen professionele boksers. Hy beskik oor emmersvol durf en dit sal interessant wees om te sien hoe dinge in die kryt uitdraai,” het Fick gesê.

Nie een van die glansboksers behoort op 6 November met plankekoors, of dan verhoogvrees, te sukkel nie.

Fraser is ’n bekende komediant wat al in Australië, Indonesië en die VSA gehore vermaak het, terwyl van sy video’s op sosiale media al meer as ’n miljoen keer gekyk is.

Dan het Learmonth – as voorsanger van die gewilde Prime Circle-rockgroep – al vir ’n hele paar nommereentreffers gesorg, terwyl hy ook deesdae sy stempel as solosanger afdruk.

“Ek dink Kevin se grootste sterkpunt is juis sy kalmte onder druk. Hy is gewoond daaraan om op die groot verhoog te wees – amper soos Francois van Coke. Ek is baie tevrede met wat ek voorbereidingsgewys van hom sien.”

Oudergewoonte sal daar weer hope vermaak wees en kunstenaars soos Early B, Karen Zoid en Jack Parow sal tot die aand se aksie bydra.

Stroomkaartjies is weer eens beskikbaar teen R150. Besoek www.itickets.co.za om jou plek in jou sitkamer te bespreek.

Sportland Boxop word deur Blue Banana Events aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.