Poirier laat McGregor harpuis ruik

Dustin Poirier het vir Conor McGregor in die tweede ronde geklop. Foto: Twitter.

Conor McGregor het op die vooraand van sy geveg teen Dustin Poirier voorspel dat hy die kragmeting binne 60 sekondes sal wen.

’n Mens kan normaalweg die veglustige Ier se voorspellings glo, want anders as die meeste sportmanne beskik hy oor die vermoë om daad by woord te voeg.

Daarbenewens het die 32-jarige McGregor destyds die eerste ontmoeting tussen die twee gemengdegevegskuns-atlete binne twee minute gewen.

Maar vandag het dinge effens skeef geloop toe Poirier hom in die tweede ronde van hul UFC-geveg op Dana White se Fight Island laat harpuis ruik het.

McGregor het die eerste ronde goed begin en hy het die Amerikaner met sy nou kenmerkende skouerhoue – waarmee hy verlede jaar vir Donald Cerrone in Las Vegas oordonder het – bygedam.

Voeg daarby ’n paar goeie houe met die linkervuis en ondersteuners in die McGregor-kamp het waarskynlik begin om foto’s en slagspreuke op sosiale media te laai: Die “Notorious” verloor mos nie sommer nie.

Poirier het egter ander gedagtes gehad.

Die trots van Louisiana het in die tweede helfte sy teenstander eers op die agtervoet met ’n paar goed berekende skoppe gedwing, waarna hy sy vuiste soos een of ander pretpark-attraksie begin swaai het.

Een van sy houe het McGregor goed getref en die skeidsregter het die geveg kort daarna gestop.

“Ek is gelukkig met my vertoning, maar ek is nie eintlik verbaas daaroor nie. Die telling is nou gelykop. Dalk moet ons dit weer doen,” het Poirier ná die afloop van die geveg gesê.

Foto: Twitter.

Op sy beurt het McGregor gesê dat Poirier se skoppe die begin van die einde was.

“My been was morsdood gewees. Ek moet egter die nederlaag soos stof van my klere afstof en sterker terugkom.”

Die omstrede Ierse hokvegter het in Junie verlede vir die soveelste keer sy uittrede aangekondig. Die aankondiging het ondersteuners oor die hele wêreld laat kopkrap, want vroeër in 2020 het hy nog vir Cerrone binne slegs 40 sekondes katswink geslaan, terwyl hy ook teen Anderson Silva sou baklei het. Dan het daar ’n watertand-herontmoeting met Khabib Nurmagomedov ook op hom gewag.

Op ’n vraag of UFC-ondersteuners hom weer in 2021 gaan sien, het hy ’n onmiddellike antwoord gereed gehad.

“Natuurlik. In hierdie sport moet ’n mens aktief bly. Ek sluk maar swaar aan hierdie nederlaag, maar ek sal terug wees,” het McGregor gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

Beste uitslag ooit. Hoop koenie mcgregor se groot mond is nou toe. Porier het hom ordentlik getimmer……

Piet ·

Ek het respek vir hierdie manne. As tough as nails soos die Engelsman sou se.

Ruan ·

Dis miskien lelik maar ek het so lekker gekry toe Poirier daai uitslag hou gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.