Poirier teen McGregor: Nie in hok maar dalk in kryt?

Conor McGregor (links) en Dustin Poirier in aksie. (Foto: Stacy Revere/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Dustin Poirier twyfel of hy vir ’n vierde keer saam met Conor McGregor in ’n UFC-hok sal klim. Maar hy is wel lus om sy bokshandskoene nader te trek.

Die gemengdegevegskuns-atleet van Louisiana het in ’n vraag-en-antwoordsessie op Twitter gesê dat hy dit sal geniet om die veglustige Ier in die kryt aan te vat.

“Begin solank om die reëlings te tref,” het Poirier gesê.

Die gevegstrilogie tussen die twee UFC-sterre het op die slegste wyse denkbaar vir McGregor geëindig toe hy ’n ernstige beenbesering in die eerste ronde van hul tweestryd in Las Vegas opgedoen het.

Dana White (Ultimate Fighting Championship-grootbaas) het kort nadat die geveg stopgesit is, gesê dat die Ier die “laer tibia van sy linkerbeen” gebreek het. Hy is ’n rukkie later geopereer.

Dit was McGregor se tweede agtereenvolgende nederlaag teen Poirier nadat die “Trots van Louisiana” hom in Januarie 2021 blitsvinnig uitgeslaan het.

G’n wonder die Amerikaner is so lus om appels in die kryt te swaai nie!

Dustin Poirier het vir Conor McGregor in die tweede ronde van ’n geveg geklop. Foto: Twitter.

Tog lag die Dublin-boorling steeds al die pad bank toe.

Hy is verlede jaar deur Forbes as die hoogs betaalde sportman ter wêreld aangewys; hy het na raming ’n ongelooflike $180 miljoen (R2,7 miljard) in sy sak gesteek.

McGregor verdien miljoene met elke geveg, maar dit is die sukses van sy Proper No. 12-whiskey wat sy spaarvarkie vet voer.

Die Poirier-nederlae is egter ’n klad op sy loopbaanrekord wat hy beslis sal wil verwyder.

“Conor is eerstens ’n vegter. Ondanks al die ander dinge wat aangaan, sal hy wil baklei. Hy gaan nie toelaat dat dinge op hierdie wyse vir hom eindig nie; hy sal terug wees,” het die Walliese hokvegter, Jack Shore, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Nee wat Conor moet maar uit tree, hy is te oud nou.

George ·

Conor geniet dit te veel om mense op straat en pubs aan te rand, want hy kan nie wen in die kruit nie. Self die Paul broers sal hom laat les op se

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.