Koerante in Australië en in Nieu-Seeland het voor vanjaar se Wêreldbeker-netbaltoernooi in Liverpool gesê teenstanders moet lig loop vir Suid-Afrika se Karla Pretorius.
Dié Protea-verdediger kan meer balle onderskep as ’n o. 13-Cravenweeksenter teen ’n buurskool se D-rugbyspan. En Pretorius het nie teleurgestel nie.
Sy het gedurende die toernooi die bal 20 keer onderskep en was gereeld ’n doring in die vlees van enige opposisiedoel of -hulpdoel.
Die 29-jarige voormalige leerder van Hoërskool Zwartkop in Pretoria is welverdiend as die Wêreldbeker se speler van die toernooi aangewys.
Hoewel dit ’n bobaas-spanpoging geverg het om algeheel vierde by die internasionale netbalskouspel te eindig, was Pretorius definitief die gevaarvrou in die Groen-en-goud en waarskynlik dié speler waaroor Engeland, Australië, Jamaika en ander lande se afrigters ’n spanpraatjie of twee gehou het.
“Ek voel baie geëerd om as die beste speler van die Wêreldbeker aangewys te word. Jy is egter net so goed soos die spelers rondom jou en ons het só goed in hierdie toernooi gevaar.
“Al gaan ons nie met ’n medalje terug huis toe nie, kan ons baie trots wees op die manier waarop ons gespeel het,” het Pretorius gesê.
“Dit is die span se spel wat my geïnspireer het om my beste te lewer en ek is baie dankbaar vir die erkenning wat ek gekry het – dit is inderdaad ’n baie spesiale toekenning. Dit wys jou net dat Suid-Afrika oor die spelers, talent en vaardighede beskik om die beste in die wêreld aan te vat.”
Intussen het Spar aangedui dat hulle die span met ’n bonustjek van R1,2 miljoen sal beloon vir hul uitstekende spel. Die Proteas het met twee doele teen Australië in die halfeindstryd verloor.
- Erin Burger (senter) is ná afloop van die 2011-Wêreldbeker-toernooi in Singapoer as die speler van die toernooi aangewys. Pretorius was destyds haar kamermaat.
Net jammer die span se wiele het in die laaste wedstryd afgeval.
Goed gedoen, trotse span, netbal het nog altyd aan die agterste speen gesuig en dankie aan Spar vir die mooi gebaar.
Knap gedaan!!! Dit wil gedoen wees om uit te troon in so n moeilike toernooi. Jy maak ons baie trots dame.
Welgedaan Karla. Sy is ook ‘n oud-Hennopsparker.
As ek so na Tops se pryse kyk, lyk dit eerder of hulle die Proteas borg/beloon.
Well done!! julle het ons trots gemaak. Dit was sooo lekker om weer na goeie Suid-Afrikaanse netball te kon kyk.. Jammer julle het dit nie gemaak vir ‘n medalje nie maar julle was puik! Geluk aan jul afrigters ook!