Protea-netbalspan laat krieket-eweknie bloos

Suid-Afrika se Karla Pretorius (middel) in aksie tydens die Proteas se wedstryd teen Skotland. Foto: Press Association via AP Images.

Nora Plummer, afrigter van die Proteas, het op die vooraand van die Wêreldbeker-netbaltoernooi gesê dat die Proteas vanjaar ’n perd van ’n ander kleur is en dat hulle oor die vermoë beskik om onder die top-spanne in die internasionale skouspel in Liverpool te eindig.

Vandag, 16 Julie 2019, is die Proteas nie net onoorwonne in die toernooi nie; hulle is ook sterk aanspraakmakers om later met die silwerware huiswaarts te keer. ’n Vertoning wat ligjare van die Protea-krieketspan se treurmare in hul Wêreldbeker-toernooi verskil.

Plummer se span het gister vir Skotland met 66 – 38 getroef om hul onoorwonne toernooirekord na vier wedstryde te neem. Dit is ook die negende keer agtereenvolgens wat hulle met die Skotte afreken.

Die span het vroeër in die toernooi met Trinidad en Tobago, Fidji en Jamaika afgereken.

Om dinge in perspektief te plaas: Jamaika is die tweede voorste span ter wêreld en om hulle met 55 – 52 te wen; is glad nie te versmaai nie.

“Ek dink ons het altyd geweet dat [die wedstryd teen] Jamaika ’n intense tweestryd sal wees. Ons het dit op die baan verwag en dit is presies wat ons gekry het. Ons meisies was egter tops en hoewel ons ’n paar foute gemaak het, sal ons as ’n span daaraan werk.

“Ek is baie tevrede met die oorwinning en dit gee ons beslis daardie tikkie ekstra selfvertroue vir die res van die toernooi,” het Plummer ná die Jamaika-wedstryd gesê.

Karla Pretorius het twee skitterwedstryde teen Jamaika en Skotland gehad en is in albei wedstryde as die speler van die wedstryd aangewys.

  • Die Proteas speel môre om 20:00 teen Uganda en die wedstryd word regstreeks op SuperSport 10 uitgesaai.
  • Die span se uitslae in hul eerste vier wedstryde:
  • 76 – 45 teen Trinidad en Tobago
  • 90 – 35 teen Fidji
  • 55 – 52 teen Jamaika
  • 66 – 38 teen Skotland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Neels ·

Interessant hoe nuuswaardig die netbal word noudat hulle wen .

Valerie ·

Neels, netbal daar word al jare in die media oor netbal geskryf en gerapporteer. Sê liewer jy neem nou eers notisie daarvan nadat die krieket en rugbyspanne voortploeter en teen eweknie dêrede wereldse landjies verloor. Wys my een windgat in die netbalspan; in die Protea spannetjie is daar omtrent 10. Om van die rugbyspan nie eers te praat nie.

Pieter ·

Bly darem maar lekker om te kyk as iemand wen. Wil ook sê dat dit lekker is om te sien dat die span nie deur kwotas oorheers word nie. Die girls mag maar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.