Protea-netbalspan maak vir Kiwi’s skrik

Kaptein van die Proteas, Bongi Msomi (Foto: Courtney Africa/African News Agency/ANA)

Nieu-Seeland is die bloubloedspan van wêreldnetbal nadat hulle die Wêreldbeker-skouspel verlede jaar gewen het. By die vierhoekige reeks wat tans in Engeland gespeel word het hulle reeds met die gasheerland sowel as met Jamaika afgereken.

Die Kiwi’s het daardie wedstryde onderskeidelik met 16 en 26 doele gewen. Dit was boonop die eerste keer in vier jaar wat hulle met die meisies van die Wes-Indiese Eilande kon afreken.

Maar vandag het die Proteas hulle ordentlik skrik gemaak en so byna vir ’n reuse-opskudding gesorg. Toe die eindfluitjie ná ’n uur se spel in Londen geblaas het, was die eindtelling 48 – 41 in Nieu-Seeland se guns.

In die voorafgaande 33 kragmetings tussen die twee netballande kon Suid-Afrika nog net een keer gewen het en die kanse was goed dat die geskiedenis homself weer vandag sou herhaal. Hoewel die Proteas goed teen Engeland en Jamaika vertoon het, het die Kiwi’s die einste twee lande op die baan platgetrap.

Maar ná twee kwarte vandag het die Nieu-Seelanders ’n voorsprong van slegs sewe doele gehad en die tafel was gedek vir ’n dramatiese tweede helfte. En goeiste, die Proteas het beslis nie in die derde kwart teleurgestel nie.

Die Spar Proteas het vandag goed teen die wêreld se voorste netbalspan, Nieu-Seeland, vertoon. Foto: Netball SA/Twitter

Karla Pretorius – wat maar stillerig in die vorige twee kragmetings was – het skielik soos die speler van ouds verdedig, terwyl Bongi Msomi haar mede-spelers op die baan geïnspireer het.

Binne ʼn oogwink was die telling eweskielik 31-elk en die Nieu-Seelanders het ’n paar benoude spronge gemaak.

Tog het hulle – te danke aan ʼn paar ongedwonge Protea-foute binne die doelsirkel – weer stelselmatig die oorhand begin kry; hulle is net té gewoond aan wen.

Die Proteas het vandag weer gewys dat hulle saam met die beste ter wêreld kan gesels. Nou moet hulle ook net een of ander tyd dié wedstryde begin wen.

  • Tellings aan die einde van elke kwart:

Eerste kwart: 14 – 11 vir Nieu-Seeland
Tweede kwart: 27 – 20 vir Nieu-Seeland
Derde kwart: 37 -34 vir Nieu-Seeland
Vierde kwart: 48 – 41 vir Nieu-Seeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

bokka ·

Dit sal meer aanvaarbaar wees as hulle begin om iets te wen. Sover alles verloor in die toernooi, dis pateties in my boeke.

Boerseun ·

Hahaha. Suid Afrika se nommer een, was vandag in die laaste plek. Hy was wel op die eerste bof voor, omdat hy eerste afgeslaan het.

MANIE ·

Jy verloor met sewe punte maar dit was amper n opskudding.Huh!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.