Protea-netbalspan verloor naelskraap

Foto: (AP Photo/Rui Vieira)

Voor die Wêreldbeker-netbaltoernooi se halfeindstryd tussen Suid-Afrika en Australië begin het, het almal gedink die Proteas gaan kanonvoer wees.

Maar Norma Plummer se span het met iets gespeel wat deesdae baie in Suid-Afrikaanse sport ontbreek: emmersvol durf en bakkievragte vol passie.

Toe die eindfluitjie ná die vierde kwart geblaas het, was die eindtelling 55–53 in die Aussies se guns. Die Proteas het weliswaar met twee doele verloor, maar hulle het die bewondering van die netbalwêreld gewen.

Die eerste kwart het teen ’n vinnige pas begin en die twee spanne was doel-vir-doel gelyk, maar die Aussies het later gewys waarom hulle die wêreld se voorste span is en het stelselmatig die oorhand begin kry om dié ronde met 14-10 te wen.

Foto: (AP Photo/Rui Vieira)

Die Proteas het in die tweede kwart ’n paar foute gemaak – Karla Pretorius en kie het ’n paar balle skitterend onderskep, maar dan het té oorgretige hande onnodige foute gemaak.

Soos wat Naas Botha in die rugbywêreld sê: Omgekeerde balbesit is jou gevaarlikste vorm van besit; mits jy dit in punte omskep, natuurlik.

Die rustydtelling was 31–23 in Australië se guns.

Plummer het duidelik langs die baan haar spelers goed gemotiveer, want in die daaropvolgende twee kwarte was die Proteas aan die brand.

Foto: (AP Photo/Rui Vieira)

Mens was lanklaas opgewonde oor Suid-Afrikaanse sport (as jy die krieket en die Superrugby in ag neem), maar vir dié laaste 30 minute het die Protea-netbalspan gesorg dat ondersteuners weer trots word op die Groen-en-goud.

Lenize Potgieter het haar gô uitgedoel, terwyl die ganse span met ’n dringendheid gespeel het wat basies verdien het om die wedstryd te wen.

In ’n stadium was daar net een doel verskil tussen die twee spanne, maar die Aussies is daaraan gewoond om Wêreldbeker-uitspeelstryde te wen – hulle het immers nog nooit ’n halfeindstryd verloor nie – en hulle het stelselmatig weer beheer van die wedstryd geneem.

Het die Proteas vir die eindstryd gekwalifiseer? Nee.

Verdien hulle steeds daardie bonusse van Spar en Telkom? Dubbel en dwars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alwyna

Briljant…julle het ons vandag soooo trots gemaak. Amper die grootste opskudding in wêreldnetbal veroorsaak want die Aussies is immers die beste in wêreld.
Mag jul net van krag tot krag gaan en volgende keer die beker omhoog hou!!!

Sarel

Mooi Meissies wel gedoen. Julle kan julle koppie hoog hou.

Kwagga

Jul het goed gedoen jul kan met n groot hart terug kom. Jul hart en siel was in elke game. Hou so aan volgend een is dit jul sin. Trots op julle.????????

Elbe

Super trots op julle

Johannes

Baie trots op die Aussies. Welgedaan Australie