Proteas begin Fast 5-Wêreldtoernooi teen Jamaika

Die kapteins van die verskillende lande wat aan die Fast5-toernooi deelneem Foto: Fast5 Netball World Series, Facebook

Die kapteins van die verskillende lande wat aan die Fast5-toernooi deelneem Foto: Fast5 Netball World Series, Facebook

Suid-Afrika se Proteas speel Saterdag in Melbourne hulle eerste wedstryd in die Fast 5- Wêreldtoernooi  teen Jamaika.

Die voorste ses spanne op netbal se wêreldranglys neem deel en speel op ʼn rondomtalie-grondslag teen mekaar. Die ander vier lande wat deelneem is Australië, Nieu-Seeland, Engeland en Malawi.

Hierdie korter, vinniger en baie opwindende vorm van netbal verg ʼn hoë graad van spoed, fiksheid en vaardigheid – veral van die doelskieters wat doele van buite die tradisionele doelsirkel kan skiet waar die doel meer tel.

Die Proteas se afrigter van die Fast 5-span, Elsje Jordaan, het op netball-sa.co.za gesê hoewel die grondslag van die spel dieselfde is, is Fast 5 meer aanvallend. Die ruimtes vir aanval moet benut word en dit moet vinnig en akkuraat gedoen word.

Op die verdediging fokus die spelers om die ruimtes vir aanval toe te maak en die terugspringballe van die doelpaal te kry. Daar is meer kanse daarvoor in Fast 5 oor die 2-punt- en 3-puntdoele wat geskiet word.

Die Proteas het nog voor hulle vertrek ʼn terugslag gehad. Vanes-Mari du Toit, wat die meeste ervaring van Fast 5 in die span gehad het, het nie genoegsaam van ʼn besering herstel nie en moes agterbly. Sy is deur Phumza Maweni vervang.

Al die spanne speel Saterdag drie wedstryde. Sondag word die oorblywende twee wedstryde gespeel en daarna die uitspeelwedstryde en die eindstryd. Al die wedstryde word regstreeks op Supersport uitgesaai.

Benewens Jamaika speel die Proteas Saterdag teen Nieu-Seeland en Engeland. Sondag speel hulle teen Malawi en Australië.

Suid-Afrika se span
Charmaine Baard, Fikile Mkhuzangwe, Ine-Mari Venter, Juline Rossouw, Lauren-Lee Christians (kapt.), Marelize de Bruyn, Phumza Maweni, Tanya Mostert, Thuli Nhleko, Tshina Mdau.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PW Growee ·

Go Proteas! Met ‘n Thuli in die span kan dit net goed gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.