Proteas los beste vir laaste

Die Proteas het gisteraand baie beter in hul laaste wedstryd van die vierhoekige reeks in Londen gespeel. Foto: Twitter via England Netball.

“Dít is hoe ek weet hulle kan speel,” was Dorette Badenhorst se presiese woorde ná die Proteas se finale wedstryd in die vierhoekige reeks in Londen.

Ja, Bongi Msomi se span het weliswaar met 51–50 teen Nieu-Seeland vasgeval, maar hulle het ongetwyfeld hul beste vertoning vir laaste gelos.

Die Suid-Afrikaners het met emmersvol durf en veggees gespeel, terwyl hul aggressiewe benadering die Kiwi’s gereeld op die agtervoet geplaas het.

Msomi het soos ’n wafferse akrobaat op senter te kere gegaan, terwyl Lefébre Rademan en Ine-Marí Venter ’n gevaarlike kombinasie in die doelsirkel was.

Veral Venter verdien spesiale vermelding vir haar akkuraatheid en kalmte – ’n mens kan sien dat sy trots is om haar land op die netbalbaan te verteenwoordig en sy het net met een van haar 36 doelpogings skeef gekorrel.

Die Proteas het ná die derde kwart ’n voorsprong van een doel geniet, maar die Kiwi’s het in die laaste 15 minute goed teruggeveg om die wedstryd net-net te wen.

“Al twee spanne het baie goed gespeel; ek is trots op die Proteas en ek glo ons het vandag beslis beter gespeel,” het Badenhorst gesê.

Sy is ook baie tevrede met die span se vordering.

“Ons is hier met ’n baie jong groep spelers en ons het nuwe kombinasies uitgetoets. In die begin van die toernooi het ons 30 ongedwonge foute per kwart gemaak; gisteraand was daar ongeveer net vyf per kwart.”

  • Tellings ná elke kwart (Proteas se telling eerste):

Eerste kwart: 13–14

Tweede kwart: 25–28

Derde kwart: 39–38

Vierde kwart: 50–51

  • Intussen het Australië vir Engeland in die gouemedaljewedstryd met 58–46 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ·

Ek sou graag hierdie wedstryd wou gesien het. Miskien sal iets op youtube wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.