Proteas lyk beter teen Aussies

Die Protea-netbalspan het beslis beter in hul wedstryd teen Australië vertoon. Foto: Twitter via England Netball/Ben Lumley.

Nadat die Engelse Rose die Proteas in die openingswedstryd van die vierhoekige reeks in Londen van die baan gevee het, het Bongi Msomi se netbalspan gister baie beter teen Australië vertoon.

Die Suid-Afrikaners het egter steeds met 60 – 40 teen die wêreld se voorste netbalspan vasgeval.

“Ons het inderdaad beter vertoon – die spelers het vir mekaar gespeel en hul samespel was beter as teen Engeland,” het Dorette Badenhorst, afrigter, gesê.

Sy kan veral tevrede wees met haar span se vertoning in die eerste twee kwarte. Hulle het die Aussies fisiek aangevat, terwyl Ine-Marí Venter en Lefébre Rademan die telbord aan die gang gehou het.

Met Tshina Mdau en Monique Reyneke op die baan het die Proteas se verdediging ook goed gelyk en teen rustyd was hulle met net vier doele agter.

Maar Australië is nie verniet die wêreld se beste span nie en hulle het die krane in die laaste twee kwarte oopgedraai om uiteindelik 33 doele in die laaste halfuur aan te teken.

“Die spelers het by die wedstrydplan gehou en ek is tevrede met ons vertoning. Dit was veral belangrik om teen van die sterker spanne te speel sodat ons gereed kan wees vir later vanjaar se Statebondspele.”

Maar om met 20 doele te verloor is steeds glad nie lekker nie.

Suid-Afrika speel môre om 19:15 teen Nieu-Seeland, terwyl die uitspeelwedstryde Woensdag ook vanaf 19:15 op die kassie te sien is.

Al die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • Protea-beginspan teen Australië: Ine-Marí Venter, Lefébre Rademan, Izette Griesel, Bongi Msomi, Monique Reyneke, Zanele Vimbela en Phumza Maweni.
  • Tellings ná elke kwart (Australië se telling eerste):

Eerste kwart: 14 – 12

Tweede kwart 27 – 23

Derde kwart: 45 – 32

Vierde kwart: 60 – 40

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Dit lyk vir my na ‘n behoorlike pakslae. Is die span se fiksheid op standaard? Dit lyk asof hulle heeltemal uitmekaar uit val in die laaste helfte van die kragmeting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.