Proteas nie meer ʼn hierjy-netbalspan nie

Die Proteas gee nou die voorste spanne opdraand Foto Twitter (Netball SA)

Die Proteas gee nou die voorste spanne opdraand Foto Twitter (Netball SA)

Suid-Afrika het Dinsdagaand in die Quadtoernooi in Durban onteenseglik bewys dat hy teen die wêreld se voorste netbalspanne kan meeding.

Na Suid-Afrika se blink vertoning Saterdag teen Engeland, moes die wêreld se beste span, die Australiese Diamonds, uithaal om Suid-Afrika se Proteas 62-46 te klop.  Dit is ʼn aansienlike beter uitslag as in hulle eerste ontmoeting in die Quadreeks toe die Aussies op eie bodem Suid-Afrika in die eerste been van die reeks met 25 doele, 68-43, van die baan af gevee het.

Die Proteas het huiwerig begin en Australië het gou 5-0 voorgeloop voordat Suid-Afrika hulle eerste doel kon aanteken.  Australië se verdediging, veral in die doelsirkel, was genadeloos en die Diamonds se verdediger, April Brandley, is welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.

Die Aussies was aan die einde van die eerste kwart 17-9 voor.

Die Proteas se afrigter Norma Plummer het Vanes-Mari du Toit met Lindie Lombard, wat so goed  teen die Engelse Rose gespeel het, vervang. Sy het ook vir Precious Mtembu nadergetrek.

In die tweede kwart was die Proteas stukke beter.

Hoewel Karla Mostert af is met ʼn bloedbesering het Phumza Maweni haar baie goed van haar taak as doelverdediger gekwyt.

Suid Afrika het die agterstand in die tweede kwart effens ingehaal deur 11 doele teenoor die Aussies se 14 te kry. Die telling by die halfpadmerk was 31-20 in die Aussies se guns.

Die derde kwart het vir ʼn taai stryd gesorg en ondermeer het Maweni ʼn amptelike waarskuwing gekry.

Die Proteas se kaptein en senter Bongi Msomi het in die kwart waar die doelskieters van Australië onverbeterlik was, die spel oper gemaak en Lombard en Lenize Potgieter het mekaar keer op keer in die doelsirkel gevind. Die telling in die derde kwart was 14-10 vir Australië.

In die vierde kwart het Karla Mostert teruggekeer en Maweni is gestraf en moes twee minute van die baan af gaan.  Die Proteas het met groter vryheid alles in die stryd gewerp en die Aussies het ʼn bietjie van hulle akkuraatheid en dissipline ingeboet.

Suid-Afrika het dié kwart net met een doel verloor en Australië was met 62-46 baas.

Suid-Afrika het al 34 wedstryde teen Australië gespeel en was nog nooit aan die wenkant nie. Hierdie eindtelling was die kleinste doelverskil nóg teen die Aussies.

♦  Suid-Afrika se laaste wedstryd  in die Quadreeks is Sondag teen Nieu-Seeland in Londen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.