Proteas optimisties oor Netbal-wêreldbeker

Karla Pretorius (regs) is een van die wêreld se bestes. Foto: Facebook.

Die Protea-netbalspan staan Juliemaand hul beste kans in 25 jaar om ’n medalje by die Wêreldbeker in Liverpool in die Verenigde Koninkryk te wen.

Suid-Afrika het in 1995 ’n silwer medalje tydens die Wêreldkampioenskap in Birmingham ingepalm.
Norma Plummer (afrigter) het op die vooraand van die span se vertrek na die Verenigde Koninkryk gesê dat die Proteas baie in die afgelope paar jare gegroei én verbeter het. Sy is boonop optimisties oor hul kanse om met ’n medalje huiswaarts te keer.

“Die vierhoekige reeks teen Australië, Engeland en Nieu-Seeland was ongelooflik belangrik omdat dit die spelers geleer het om druksituasies te hanteer. Ons het vir Engeland geklop en Nieu-Seeland kon ons eers in bykomende tyd gewen,” het Plummer gesê.

“Hulle het geleer hoe om kalm in die drukkoker van internasionale wedstryde te bly, sowel as om ongemaklike situasies doeltreffend te hanteer.”

Die feit dat ’n rits spelers in Nieu-Seeland, Australië en Engeland se professionele ligas speel, dra ook baie tot hul sukses van die afgelope paar maande by.

“Ons het ses spelers wat in Australië se Suncorp-liga speel – die kompeterendste liga ter wêreld.  Karla Pretorius en Phumza Maweni speel saam vir die Sunshine Coast Lightning-span en is gesamentlik die beste verdedigers in die kompetisie,” sê Plummer.

“Die spelers in ons span wat oorsee speel, meet kragte teen van die beste internasionale spelers. Hulle hoef vir absoluut niemand terug te staan nie,” het sy bygevoeg.

“Daar is vyf lande wat met die louere kan wegstap. En ons is een van hulle.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ronel

Maak ons trots, dames! Mag dit met JULLE goedgaan.

Thelma

Ek hou duime vas, gaan hulle beslis volg. Baie sterkte.

Valerie

Hulle is realisties; dit is goed. En hulle wen ook nie toernooie nog voor dit begin het nie.