Proteas se beste in 50 jaar teen Nieu-Seeland

Maria Tutaia, hulpdoel van die Silver Ferns, is as speler van die wedstryd aangewys (Foto Facebook)

Goed. Amper baie goed, maar op die ou end tog nie goed genoeg nie.

Dit was die derde kwart wat die Proteas Saterdag in hulle eerste wedstryd in die 2017/’18-vierhoekige netbalreeks in Brisbane gekelder het. Hulle het eindelik met 56-63 teen Nieu-Seeland verloor, maar het die Silver Ferns regtig laat bontstaan en twee van die vier kwarte gewen.

Met die uitsondering van die wêreldbekertoernooi 50 jaar gelede (in 1967) toe die Kiwi’s met net twee doele gewen het, was dit die naaste wat die Proteas nog aan ʼn oorwinning teen Nieu-Seeland gekom het.

Die sewe doele waarmee hulle uiteindelik verloor het, kan toegeskryf word aan die 20-12 doele waarmee die Kiwi’s in die derde kwart baas was.

Die wedstryd het getoon dat die Suid-Afrikaners steeds op die netbalbaan verbeter. Jy hoef dit net te vergelyk met die laaste wedstryd in die vorige reeks toe Nieu-Seeland hulle in die 2016/’17-reeks met 31 doele geklop het.

♦  Saterdag was dit egter ʼn ander storie. Teen rustyd was die Proteas net ʼn enkele (30-31) doel agter nadat die Suid-Afrikaners die tweede kwart 14-13 gewen en ʼn doel op die 16-18-agterstand na die eerste kwart ingehaal het.

Dit was egter in die derde kwart waar dinge verkeerd geloop het. Die Kiwi’s het die swakhede van die Proteas uitgebuit en die kwart met 20-12 gewen en toe 51-42 voorgeloop, ʼn voorsprong van nege doele. Dit het feitlik verseker dat hulle sou wen.

In die laaste kwart was die Proteas weer kookwater. Hulle het die laaste kwart 14-12 gewen, maar die agterstand was te groot en hulle het met sewe doele verloor.

♦  Nou waar het die Proteas se aanslag verkeerd geloop? Hulle verdediging was nie deurgaans op dieselfde vlak as Nieu-Seeland s’n nie. Gevolglik was die 81% doelgemiddelde van Lenize Potgieter en Maryka Holtzhausen  heelwat laer as dié van Maria Tutaia en Bailey Mes wat met 90% van hul doelskote geslaag het.

Die 15 onderskeppings van die Proteas se bal het hulle saak ook nie gehelp teen ʼn span wat net drie keer in dié opsig gefouteer het nie.

♦  Die Australian Diamonds het Engeland se Roses Saterdag, ook in Brisbane, met 54-50 geklop

♦  Woensdag speel Suid-Afrika in Canberra teen Australië terwyl die Silver Ferns in Auckland teen Engeland speel.

Die Proteas se laaste wedstryd in die 2017-gedeelte van die reeks wat in 2018 voortgesit word, is aanstaande Saterdag teen Engeland in Invercargill in Nieu-seeland, waar die Silver Ferns en die Australian Diamonds ook kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.