Proteas se Shadine mik na 100 toetse

Shadine van der Merwe in aksie op die netbalbaan. Foto: Verskaf.

Wanneer Dorette Badenhorst of Norma Plummer hul Protea-netbalgroep kies, is Shadine van der Merwe se naam waarskynlik een van die eerstes wat hulle neerpen.

Die 27-jarige sorg gereeld vir uithalervertonings en sy is ná verlede jaar se tuisreeks teen die Engelse Rose as die waardevolste speler van die toernooi aangewys. Tog het daar nie altyd VV op haar beffie gestaan nie.

“Op laerskool was ek altyd hulpdoel, terwyl ek op hoërskool senter gespeel het totdat my o.17-afrigter my na hulpdoelverdediger geskuif het,” het sy aan Maroela Media gesê.

Hoewel die hele span aanvanklik in opstand oor dié skuif was, het sy in haar rol as verdediger uitgeblink en afrigters het vir haar gesê dat sy ’n natuurlike aanvoeling vir dié posisie het. Pas nadat sy haar Protea-buiging gemaak het, het Plummer haar egter na verdedigende vleuel (VV) geskuif.

Sy lewer skitterspel as VV. Foto: Verskaf.

“Ek het baie geleer en speel nou VV vir omtrent twee jaar. Deur jou ‘donkiewerk’ goed in dié posisie te doen, skep jy baie meer geleenthede vir die sirkelverdedigers om balle te draai. Dit is altyd vir my die lekkerste om te weet dat jou harde werk beloon word en jy jou spanmaats goed kan laat lyk.”

Van der Merwe het al eersterangse netbal in Engeland en Australië gespeel en sy voel dat haar spel beslis daarby baat.

“Die Aussies se Suncorp Super Netbal-kompetisie is tans die beste in die wêreld en ek leer elke dag meer terwyl my spel ongetwyfeld verbeter deur op ’n hoë vlak te speel. Hoe meer jy op dié vlak speel, hoe beter word jy. Persoonlik dink ek dat die oorsese geleenthede my ’n beter speler vir Suid-Afrika maak; die Spar Proteas sal altyd my hoofprioriteit wees.”

Volgens Van der Merwe neem oorsese kragreuse soos Australië en Nieu-Seeland glad nie meer die Proteas ligtelik op nie.

“Netbal het ongelooflik in Suid-Afrika gegroei en dit is wonderlik dat ons nou teen die bestes in die wêreld kan meeding. Ons moet nog net aan die finale afrondingswerk skaaf om daar ook die naelbytoomblikke te wen, maar ek glo ons is op die regte pad.”

Saam met Lenize Potgieter ná die afloop van die reeks teen Engeland. Foto: ANA.

Buiten die waardevolstespeler-trofee van die Engeland-reeks wat in haar vertoonkas staan, was daar al talle trotse oomblikke op die baan: Haar Gauteng Jaguars het al vir drie agtereenvolgende eindstryde in die Brutal Fruit-reeks gekwalifiseer, terwyl hulle in hul vierde probeerslag met die silwerware weggestap het.

“Dan het ek in my laaste studentejaar saam met Tukkies die Varsitybeker gewen, terwyl verlede jaar se Wêreldbeker – waar ons vir Jamaika geklop en vir die halfeindstryd gekwalifiseer het – ’n definitiewe hoogtepunt was.”

Die nasionale afsonderingstydperk in Suid-Afrika sorg beslis vir frustrasie, maar Van der Merwe maak die beste van die saak.

“Ek gaan eerlik wees. Soms is dit moeilik omdat ek gewoond is om saam met ’n span te oefen en om heeltyd in ’n oefenomgewing te wees. Maar in tye soos hierdie is selfdissipline baie belangrik en ek weet ook dat ek myself in die voet sal skiet as ek heeldag sit en niks doen nie.”

Daarom bestee sy daagliks ’n uur aan fiksheid en haar roetine sluit onder meer draf-, springtou- en kragwerk in. Wanneer sy verveeld is, speel sy ook met ’n tennisbal om haar oog skerp te hou.

Van der Merwe mik na 100 toetse vir die Proteas (sy het tans 44 internasionale kragmetings agter haar naam), terwyl sy graag in die volgende Statebond- en Wêreldbeker-toernooie wil speel.

Sy wil in 100 toetse vir Suid-Afrika speel. Foto: Verskaf.

“Ek wil eendag nie net as ’n goeie speler onthou word nie, maar ook as ’n goeie mens. Ek het ’n ongelooflike passie vir netbal en is baie dankbaar dat die Here vir my die talent gegee het sodat ek daagliks my passie kan uitleef. Ek wil onthou word as ’n speler wat die beste vir haar spanmaats gegee het, as iemand wat die gang van ’n wedstryd kan verander.”

En op 27-jarige ouderdom kan Van der Merwe nog die koers van baie wedstryde verander.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.