Proteas se Shadine praat oor netbal in Australië

Shadine van der Merwe (links). Foto: Verskaf.

In ’n vorige onderhoud met Maroela Media het Shadine van der Merwe gesê dat Australië se Suncorp Super Netbal-kompetisie waarskynlik die beste ter wêreld is.

Spelers se spel verbeter omdat hulle op ’n hoë vlak speel, terwyl die nasionale sterre beter vir hul lande op die internasionale verhoog presteer.

Die Protea-verdediger speel saam met Lenize Potgieter vir die Adelaide Thunderbirds in Australië en hoewel die afgelope reeks dalk nie heeltemal volgens plan verloop nie – hulle het sewende op die punteleer klaargemaak – was sy steeds in die sewende hemel om weer netbal in die Covid-19-era te speel.

“Ja, ek was baie bly om weer tussen daardie vier lyne te kan speel,” het sy vir Maroela Media gesê net vóór haar vlug terug na Suid-Afrika.

So van vlugte gepraat – Van der Merwe-hulle was vir twee weke in kwarantyn toe hulle in Australië geland het – en sy was beslis nie ledig in dié tyd nie. Sy het by die hotel aan haar fiksheid geskaaf en selfs ’n hele paar kilometer in haar kamer kafgedraf.

Saam met Lenize Potgieter ná die afloop van die internasionale reeks teen Engeland. Foto: ANA.

“Die plaaslike netbalowerhede het mooi na ons gekyk en die wedstryde is in ’n stad met minder Covid-19-gevalle gespeel. Dan was die gewone gesondheidsmaatreëls ook streng gevolg.”

Haar gunsteling-wedstryd was teen die West Coast Fever – ’n kragmeting wat die Thunderbirds in die doodsnikke met 64 – 63 gewen het.

“Met ses minute se spel in die wedstryd oor was ons met agt doele agter. Ons het egter op die ou einde met een doel gewen. Ja, ons het uiteindelik sewende op die punteleer geëindig, maar ons het baie beter as verlede jaar gespeel.”

Sy vertel dat sy nou ’n blaaskans gaan neem, maar daar is ’n nasionale kompetisie en volgende jaar se Suncorp-wedstryde op die horison.

Op die internasionale verhoog mik Van der Merwe na 100 toetse vir die Proteas (sy het tans 44 internasionale kragmetings agter haar naam), terwyl sy graag in die volgende Statebond- en Wêreldbeker-toernooi wil speel.

“Ek wil eendag nie net as ’n goeie speler onthou word nie, maar ook as ’n goeie mens. Ek het ’n ongelooflike passie vir netbal en is baie dankbaar dat die Here vir my die talent gegee het sodat ek daagliks my passie kan uitleef. Ek wil onthou word as ’n speler wat die beste vir haar spanmaats gegee het, as iemand wat die gang van ’n wedstryd kan verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.