Proteas speel maklik met Zimbabwe in Diamant-eindstryd klaar

Argieffoto

Argieffoto

Suid-Afrika het Woensdagaand in Westville, Durban, die eindstryd om die Diamant-netbaluitdaagtrofee teen Zimbabwe oortuigend 68-34 gewen.

Die uitslag het nie as ʼn verrassing gekom nie nadat die Proteas in die eerste ronde van die toernooi Zimbabwe ook met ʼn groot telling geklop het.

Suid-Afrika was reeds ná die eerste kwart met sewe doele voor en die voorsprong het met elke kwart net groter geword.

Die Proteas het beïndruk met die wyse waarop hulle klokslag hul senterafgooie in doele omskep het. Wat die buurland se spelers verder sou frustreer het, was die algemene spel van Renske Stolz wat in die laaste twee kwarte weer haar akkuraatheid en kalm temperament ten toon gestel het.

Die verdediger Phumza Maweni is as die speler van die toernooi aangewys.

Dit is die vierde keer wat die Proteas die Diamant-uitdaagtrofee wen.

Die kompetisie is in 2012 ingestel om die standaard van netbal in Afrika te ontwikkel sodat spelers mededingend aan internasionale toernooie kan deelneem.

Die afrigters van al die spanne was dit eens dat die spelers heelwat baat gevind het by die kompetisie.

♦ Die verrassing van die aand was Uganda se skitterende spel teen die SA Presidentspan om die derde plek (hoewel dit ʼn gegewe was dat Uganda derde sal wees omdat die Presidentspan nie-amptelik deelgeneem het).

Die wedstryd het gelykop geëindig, 54-elk. Uganda se doelpersentasie was 90% teenoor die 86% van die Presidentspan.

Uganda was uit die staanspoor voor en die Presidentspan kon eers in die finale kwart die agterstand van vyf doele uitwis om gelykop te eindig.

Racheal Nanyonga van Uganda was die speler van die wedstryd.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.