Proteas speel soos dorings teen Rose

Lenize Potgieter het vandag ’n barshou teen die Engelse Rose gespeel. Foto: Twitter.

Ondanks gister se nederlaag met 20 doele in hul eerste wedstryd van die vierhoekige netbalreeks in Kaapstad, het ʼn selfversekerde Shadine van der Merwe laat weet dat die Proteas op koers vir die komende Wêreldbekertoernooi is.

En vandag het hulle gewys dat hulle beslis ʼn netbalkrag kan wees wanneer hulle op alle suiers vuur.

Bongi Msomi se span het gelykop teen die Engelse Rose in ʼn aksiebelaaide wedstryd gespeel waar individuele briljantheid en uitstekende spanwerk hoogty gevier het.

Die rustydtelling was 23-elk, maar die Proteas het met groter dringendheid in die derde kwart gespeel om ʼn klein voorsprong van 36–33 op te bou.

Monique Reyneke-Meyer het met haar akkurate missielagtige aangeewerk beïndruk, terwyl Lenize Potgieter en Nicholé Taljaard in die doelsirkel partytjie gehou het.

Maar die Rose is nie verniet die derde beste span op die internasionale ranglys nie en hulle het met mening in die finale kwart terugbaklei.

Met ʼn minuut op die horlosie oor is Phumza Maweni (verdediger) van die baan gestuur en die Proteas moes met ses spelers klaarkom.

Die telling was toe 46–45 in Engeland se guns.

Goeie spelers is egter op hul beste wanneer die drukkoker op sy warmste is en Karla Pretorius het weer eens gewys dat sy nie eintlik ʼn gelyke in haar posisie het nie toe sy omgekeerde balbesit bewerkstellig het.

ʼn Kort rukkie later het Potgieter die res gedoen om ʼn gelykop uitslag te bewerkstellig.

  • Spanne:

Suid-Afrika: Lenize Potgieter, Nicholé Taljaard, Izette Griesel, Bongi Msomi (kaptein), Shadine van der Merwe, Karla Pretorius en Phumza Maweni. Plaasvervangers: Ine-Marí Venter, Owethu Ngubane, Khanyisa Chawane, Refiloe Nketsa en Monique Reyneke-Meyer.

Engeland: Helen Housby, Sophie Drakeford-Lewis, Natalie Metcalf (kaptein), Imogen Allison, Layla Guscoth, Fummi Fadoju en Geva Mentor. Plaasvervangers: Alice Harvey, Laura Malcolm, Elle McDonald, Olivia Tchine en Francesca Walliams.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.