Proteas stotter, vat vlam ná rustyd

Bongi Msomi, Suid-Afrika se Netbalkaptein. (Foto: TeamSA)

Ondanks ’n gespook en gespartel in die eerste twee kwarte het die Protea-netbalspan genoeg gedoen om Botswana met 60–37 in Pretoria te klop.

Die Suid-Afrikaners het met hul ritme gesukkel, terwyl Botswana se verdedigers dinge ook vir hulle moeilik gemaak het.

Maar ná rustyd het die Proteas se ervaring en internasionale wedstrydfiksheid ’n besliste verskil gemaak en hulle het met groter dringendheid begin speel. ’n Rits doele in die derde kwart het die kragmeting buite Botswana se bereik geplaas.

Die kragmeting maak deel uit van Afrika se kwalifiserende toernooi vir volgende jaar se Wêreldbeker-netbaltoernooi in Kaapstad.

Indien die Proteas – wat reeds vir die internasionale skouspel gekwalifiseer het – onder die voorste twee spanne in Pretoria eindig, sal die spanlede wat nou in die derde plek klaarmaak hul tasse vir Kaapstad kan pak.

Die Suid-Afrikaners sal egter beslis op vandag se vertoning moet verbeter voordat hulle enigsins van Wêreldbeker-glorie kan droom.

Protea-span vir die toernooi: Khanyisa Chawane, Izette Griesel, Boitumelo Mahloko, Tarle Mathe, Phumza Maweni, Bongi Msomi, Nomfundo Mngomezulu, Nicola Smith, Nichole Taljaard, Elmere van der Berg, Shadine van der Merwe en Ine-Marí Venter.

Bepalings:

22 Augustus: Suid-Afrika teen Namibië om 18:00

23 Augustus: Suid-Afrika teen Tanzanië om 14:00

25 Augustus: Suid-Afrika teen Zimbabwe om 12:00

26 Augustus: Uitspeelwedstryde begin om 09:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.