Die Proteas speel Woensdagaand in die eindstryd teen Zimbabwe en die Presidentspan teen Uganda, wat hulle in die openingwedstryd met net vyf doele geklop het.
Aangesien die Presidentspan nie-amptelik is en die ander spanne almal nasionale spanne is, kon SA se naasbestes net vierde in die toernooi geplaas word.
Die Presidentspan het goed teen die Proteas begin en die eerste kwart met 12-10 gewen. Selfs by die halfpadmerk was die Presidentspan nie baie ver agter nie, met 20-26.
Die Proteas het egter in die tweede helfte van die wedstryd die Presidentspan oorrompel en met 56-36 gewen.
Die Presidentspan se vernaamste probleem was om goeie balle na die doelsirkel te voer, moontlik omdat Suid-Afrika se naasbestes nie ʼn gevestigde span is wat lank saam geoefen het nie. Die Proteas se verdediging was boonop uitstekend.
Die doelpersentasie van die Proteas was 89% teenoor die Presidentspan se 73%.
Erin Burger, die Proteas se uitmuntende senter, is as speler van die wedstryd aangewys.
♦ Albei die afrigters was tevrede met hul SA-spanne se vertonings. Norma Plummer het ʼn paar veranderinge by die Proteas uitgetoets en Dorette Badenhorst het al haar spelers kans gegee om teen die Proteas, wat vyfde op die wêreldranglys is, te speel.
Plummer, die voormalige Australiese afrigter toe die Aussies twee keer die Wêreldbeker gewen het, het na die wedstryd gesê Suid-Afrika is gelukkig om soveel diepte in sy netbaltalent te hê.
♦ Zimbabwe (21ste), wat tien plekke swakker as Uganda (11de) op die amptelike wêreldranglys is, het met sy oorwinning verras. Uganda het die eerste kwart met 11-10 gewen, maar daarna het die Zimbabwiërs onder hulle uitgetrek en in die tweede kwart 13 doele teen 6 aangeteken. Uganda het in die derde kwart ingehaal, maar die agterstand was te groot. Zimbabwe se hoofdoel, Pauline Jani, was die speler van die wedstryd. Die doelpersentasie van Zimbabwe was 85% en Uganda sʼn 81%. Dit was opmerklik dat albei spanne minder aggressief gespeel het nadat hulle in hul eerste twee wedstryde gereeld vir obstruksie en kontak gestraf is. Die ervaring om met internasionale skeidsregters te speel. kan vir die twee talentvolle spanne vorentoe baie beteken.
Wow Suid-Afrikaanse netbal, julle is fantasties!!!!!!!!!! Mej Potgieter ons kyk uit vir jou!!!!