Proteas teen gedugte Engeland in Quadreeks

Die Proteas is slaggereed vir die Quad-netbalreeks wat Saterdag begin Foto: Netball South Africa

Die Proteas is slaggereed vir die Quad-netbalreeks wat Saterdag begin Foto: Netball South Africa

Die tweede been van die vierhoekige internasionale Quad-netbalreeks begin Saterdag by die Internasionale Konferensiesentrum in Durban.

Australië en Nieu Seeland is om 15:00 op die baan gevolg deur Suid-Afrika se wedstryd teen Engeland om 17:00.

Die vier spanne het verlede jaar in Augustus in die Quadreeks se eerste been – in Nieu-Seeland en Australië – gespeel wat deur die Aussies gewen is. Die algehele wenner sal egter eers bepaal word na die laaste wedstryde van die tweede been wat aanstaande naweek in Engeland voorgesit word sodat al vier lande drie wedstryde sal aanbied.

Suid-Afrika speel Dinsdag (19:00) in die derde wedstryd op Suid-Afrikaanse bodem teen die Australiese Diamonds wat op hulle eerste besoek sedert 2005 aan Suid-Afrika is.

Al vier die spanne vertrek dan Engeland toe waar die Proteas aanstaande Sondag in die SEE Arena, Wembley, teen Nieu-Seeland speel.

Australië het die eerste been van die reeks wat in 2016 in Australië en Nieu- Seeland gespeel is, gewen. Hulle het al drie hulle wedstryde gewen.

Suid-Afrika het nie een wedstryd gewen nie maar tog het hulle al beter kompeteer soos die reeks gevorder het. In hulle wedstryd in Melbourne het die Proteas net met 13 doele teen die Engelse Rose verloor, die beste wat hulle in jare gevaar het. Engeland is tans derde op die wêreldranglys en Suid- Afrika is vyfde.

Die Proteas het voor die naweek se toernooi saam met hulle hoogaangeskrewe Aussie-afrigter, Norma Plummer, voorberei.  Plummer sê sy wens sy kan die span in ʼn Australiese beroepsliga laat speel waar hulle elke week in ʼn netbalomgewing kan oefen en speel.  Sy meen die gereelde kompetisie sal die span baie verbeter.

♦  Van die wêreld se beste spelers sal in die Quadreeks te siene wees. Die Nieu-Seelandse hulpdoel en Fast5-ster, Maria Tutaia,  is werklik die moeite werd om in aksie te sien. Die Australiese verdediger, Sharni Layton, wat ook kaptein in hierdie reeks is, sal ook haar invloed laat geld.

Die Aussies is die huidige wêreldkampioene en Nieu-Seeland is tweede op die wêreldranglys. Dan volg Engeland en Jamaika, wat nie deelneem nie, en Suid-Afrika .

♦  Die 27-jarige Lindie Lombard is die enigste verandering aan die span wat in Oktober 2016 in die Diamant-uitdaagtoernooi gespeel het. Sy vervang Sigi Burger wat oor dieselfde tyd as die Quadreeks vir die Junior Proteas teen Zimbabwe en Engeland speel.

Maryka Holtzhausen het nog nie voldoende van haar besering herstel nie en die kapteinskap is weer in die bekwame hande van Bongi Msomi.

Proteas –

Doelskieter: Lenize Potgieter, Renske Stoltz, Vanes-Mari du Toit, Lindie Lombard.
Senterbaan: Bongi Msomi (kapt.), Izette Lubbe, Erin Burger, Precious Mthembu.
Verdedigers: Phumza Maweni, Zanele Vimbela, Karla Mostert, Juline Rossouw.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.