Proteas vandag in volle blom, maar Rose lag laaste

Shadine van der Merwe en Lenize Potgieter. Foto: Twitter.

Nadat die Engelse Rose veel sterker as die Proteas in veral die doodsnikke van ’n naelbytstryd vertoon het, het die Suid-Afrikaanse netbalspelers vandag vir die volle 60 minute gespeel om uiteindelik die laaste toetswedstryd met 54-48 te wen.

Engeland het weliswaar die vorige twee aksiebelaaide kragmetings in die Kaap gewen om die reeks met 2-1 te beklink, maar dit was hoegenaamd nie wegholoorwinnings nie.

Die Proteas het vandag soos ’n koeël uit ’n loop weggetrek en met Lenize Potgieter op haar beste in die doelgebied, het die tuisspan sommer vroeg ’n gemaklike voorsprong geniet. Ná die eerste kwart van die wedstryd het die Suid-Afrikaners met 16-10 voorgeloop.

Maar in die vorige twee ontmoetings het die Engelse, soos wat die wedstryd gevorder het, stelselmatig die oorhand begin kry en dit het gelyk asof dieselfde weer vandag sou gebeur.

Met die telling op 35-elk het dit gelyk asof die Rose skoonskip kan maak in die reeks. Tog het die Proteas dié keer koelkop gebly en uitstekend verdedig. Die onderskeptelling was op ’n stadium 15-5 in die Proteas se guns.

Hoewel hulle toe nie die reeks gewen het nie, het die Proteas gewys dat hulle beslis ’n krag op die wêreldverhoog kan wees, selfs sonder die dienste van Norma Plummer en Erin Burger. Boonop was die wêreldbekroonde Karla Pretorius óók nie in aksie vir die Suid-Afrikaners nie.

Dit is die tweede keer vanjaar dat die Proteas baas oor die Engelse was: Hulle was vroeër vanjaar ook met 48-45 in Liverpool die wenners.

  • Uitslae van die reeks:

Suid-Afrika 53 – 59 Engeland

Suid-Afrika 58 – 63 Engeland

Suid-Afrika 54 – 48 Engeland

Die Proteas het uiteindelik 165 doele in die reeks aangeteken teenoor Engeland se 170 doele.

Potgieter is as die mees akkurate doelskieter in die toernooi aangewys, terwyl Shadine van der Merwe die waardevolste speler was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.