Puik Perez pronk in Monaco

Max Verstappen vier Sergio Perez se oorwinning in Monaco se strate. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

’n Week nadat Sergio Perez vir Max Verstappen in Spanje moes plek maak, het hy vandag met die louere in Monaco se strate weggejaag.

En dit was omtrent vir jou ’n aksiebelaaide wedren wat voor ondersteuners in hul luukse seiljagte afgespeel het.

’n Reënbui het nie net gesorg dat die wedren laat begin het nie, maar dit het ook ’n invloed op die spanne se bande- en kuipstrategieë gehad.

Soos wat die reën opgeklaar het, het die renjaers hul natweerbande vir iets meer geskik verruil en in dié deurmekaarspul het Charles Leclerc sommer sy voorsprong afgestaan.

Tussendeur was Mick Schumacher in ’n groot ongeluk nadat hy beheer oor sy motor verloor het. Die jong Duitser kon darem op sy eie die pad na sy spanbasis aanpak, maar sy Haas-renmotor het in stukke op die baan gelê.

Maar terug na Perez – die Mexikaanse renjaer het met die behendigheid en presisie van ’n chirurg gejaag en hy het dit beslis verdien om eerste oor die eindstreep te blits.

Maklik was dit egter nie; net voor die einde het sy ou bande hom teruggehou en hy moes spook om die aanslag van Ferrari se Carlos Sainz af te weer.

Max Verstappen het derde geëindig, terwyl Leclerc met ’n vierde plek voor sy tuisskare tevrede moes wees.

O ja, Perez het die wedren met net meer as ’n sekonde gewen; hy beskik beslis oor senuwees van staal!

Uitslae:

  1. Sergio Perez (Red Bull)
  2. Carlos Sainz (Ferrari)
  3. Max Verstappen (Red Bull)
  4. Charles Leclerc (Ferrari)
  5. George Russell (Mercedes)
  6. Lando Norris (McLaren)
  7. Fernando Alonso (Alpine)
  8. Lewis Hamilton (Mercedes)
  9. Esteban Ocon (Alpine)
  10. Valtteri Bottas (Alfa Romeo).

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 125 punte
  2. Charles Leclerc: 116 punte
  3. Sergio Perez: 110 punte
  4. George Russell: 84 punte
  5. Carlos Sainz: 83 punte
  6. Lewis Hamilton: 50 punte
  7. Lando Norris: 48 punte
  8. Valtteri Bottas: 40 punte
  9. Esteban Ocon: 30 punte
  10. Kevin Magnussen: 15 punte.

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 195 punte
  2. Ferrari: 169 punte
  3. Mercedes: 120 punte
  4. McLaren: 50 punte
  5. Alfa Romeo: 39 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vonkprop ·

Hierdie wedrenne raak nou naelbyt aksie. So bly daar is nou kompetisie uit vele oorde. Baie goeie jaers op die baan en so bly om nie meer so baie van die treursange van die Hamilton-melodieë te hoor nie. Nogal snaaks om nie meer Totto so baie op die tv te sien nie.

Koos 100 ·

Die FIA is besig om die sport te vernietig. Na die rooi flag begin met ‘n rol wegspring? Dit op ‘n droëe baan. Geen DRS nie al is baan droog? As die risiko verbonde aan Monaco renbaan te hoog is, skrap die ren of die punte wat daar gewen kan word, maar vir die FIA om ‘n ren so te beheer is nie meer motorsport nie. Perez het wel bewys dan hy verdien om te wen.

Jack Russ1 ·

Jip, die rol wegspring is ‘n groot verleentheid vir Monaco, want dis is agv hulle ligte wat nie behoortlik gewerk het nie.

DRS is ‘n iets anders, hulle het dit nie gebruik toe dit nat was, dit is wel later oopgemaak en hulle het die laaste helfte DRS gehad

piet ·

Lyk my hy is net so goed of selfs beter as sy spanmaat “die goue seun”. Verlede week moes hy Verstappen laat verbygaan op instruksie van die span. As hy daai punte verlede week gekry het sou hy nou in Verstappen se nek geblaas het (1 punt minder as Verstappen volgens my berekeninge) op die punteleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.