Pukke fnuik onoorwonne Tuks in eindstryd

Foto: @varsitysportsSA/Twitter

Foto: @varsitysportsSA/Twitter

Netbal was Maandagaand die wenner, om ʼn cliché te gebruik, toe die Pukke die onoorwonne Tuks in die eindstryd van die Varsity-netbaltoernooi in die Rembrandtsaal in Pretoria met ʼn enkele doel, 56-55, geklop het.

Die Pukke was die verdedigende kampioene en het dus met groot vreugde die Varsity-trofee ná ʼn baie goeie wedstryd teruggeneem Potchefstroom toe. Maar dit was nie maklik nie.

Die oorwinning beteken ook dat geen span nog in die vierjarige reeks onoorwonne deur die reeks kon gaan nie.

Vir Tuks, wat nog nie die toernooi kon wen nie, was dit weer ʼn geval van só naby dog só ver. Hulle het in 2014 in die eindstryd teen die Kovsies verloor, 42-29. Kovsies het die eerste twee toernooie in 2013 en 2014 gewen, en die Pukke nou die daaropvolgende twee.

Die wedstryd is uit die staanspoor in ʼn baie vinnige tempo gespeel en sake het deurgaans gelykop verloop. Tuks was die eerste kwart 11-10 voor, maar in die tweede kwart het die Pukke 17 doele teenoor Tuks se 14 aangeteken. Die Pukke was rustyd dus 27-25 voor. Ná die derde kwart was die twee spanne gelykop, 42 elk.

Die Pukke se twee Proteas, Sigi Burger (hoofdoel) en Renské Stoltz (hulpdoel), het met hulle puik samespel koelkop gebly en die oorwinning behaal.

Marlise de Bruyn van Tuks is as speler van die wedstryd aangewys; Tuks se kaptein, Shadine van der Merwe, kry die toekenning speler van die toernooi; en Romé Dreyer van die Pukke is die spelers se speler van die toernooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Connie ·

Wie nie gekyk het nie, het baie gemis. Dit was so ‘n mooi wedstryd.

Hendrik ·

Ons wou gaan kyk het en iets het toe voorgeval. Ek sal moet kyk of daar iets op YouTube is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.