Quadreeks was tóg die moeite werd

Maria Tutaia - speler van die wedstryd en die Proteas se doodsteek. Foto stuff.co.nz

Maria Tutaia – speler van die wedstryd en die Proteas se doodsteek. Foto stuff.co.nz

Suid-Afrika het sy laaste wedstryd van die Quadreeks Sondag in Wembley gespeel waar een van die grootste verrassings van die toernooi so byna plaasgevind het.

Die Engelse Rose het amper vir hierdie opskudding gesorg deur met net een doel teen die wêreldkampioene en die nommer een-span op die ranglys, Australië, te verloor. Maar toe het die Proteas van Suid-Afrika lelik in die stof gebyt teen Nieu-Seeland en met ʼn teleurstellende 39-70 verloor.

Australië het met Sondag se naelskraapse sege al hulle wedstryde gewen en is dus die 2017 Sanzea-Quad-kampioene.

In die laaste wedstryd van die reeks het die wêreld se naasbeste span, Nieu-Seeland, en die Proteas wat vyfde op die wêreldranglys die toernooi afgesluit.

Hoewel die Proteas al hulle vorige wedstryde in die reeks verloor het, was hulle Aussie-afrigter Norma Plummer baie in haar skik met die vordering wat hulle getoon het. Hulle het met net 16 doele teen Australië verloor, die kleinste doelverskil in 22 jaar.

Die Proteas het die Engelse Rose ook gedruk tot ʼn gelykoptelling en het in die bykomende tyd met vyf doele verloor.

Die wedstryd teen die Silwer Varings het goed vir die Proteas begin en die spanne het om die beurt doele van hulle senterafgooi gekry. Aan die einde van die eerste kwart was Nieu-Seeland net drie doele voor, 13-10.  Die Proteas het ʼn paar keer besit in die doelsirkel verloor in ʼn poging om nader aan die doelpaal te kom.

Daarenteen het die Nieu-Seelanders glad nie dié probleem gehad nie want hulle lang, lenige hulpdoel, Maria Tutaia, kan doele van enige plek in die sirkel behaal. Sy is werklik ʼn wedstrydwenner by uitnemendheid.

In die  tweede en die derde kwarte het Nieu-Seeland egter totale beheer van die wedstryd oorgeneem hoewel die Proteas moedig aanhou veg het.

Die telling aan die einde van die tweede kwart was 30-18 en na drie kwarte het die Silwer Varings reeds  51-30 voorgeloop.  Die eindtelling was 70-39.

Die Silwer Varings het net een wedstryd in die reeks (teen Australië) verloor.

Die Proteas se doelpersentasie is nog nie op internasionale standaard nie. Waar Nieu-Seeland  s’n in die hoë tagtigs was, het die Proteas in die middel-sestigs geëindig.

Dié groot pak slae was ʼn teleurstelling na die goeie vordering in die vroeëre wedstryde. Tog moet daar in aanmerking geneem word dat die drie voorste spanne ter wêreld, Australië, Nieu-Seeland en Engeland, ten volle professionele spanne is en die Proteas nie.

Om die gaping verder te vernou, sal daar aan hierdie aspek aandag gegee moet word – en dit sal sonder geld maar moeilik wees, soos Plummer al laat blyk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Well done girls ·

Well done girls, moenie moed verloor, jul verteenwoordig ons baie goed veral met die kort rukkie in die groot liga!!!

Griet ·

NETBAL : Die Proteas moet “Back to Basics”! » Gèèn onnodige heen en weer gooiery nie – oefen om direk na die doelderde in reguit lyne te speel (zig-zag is bog) » Doelskieters moet oefen en oefen en oefen om ENIGE plek binne die doelsirkel te skiet sonder mors van tyd en beweging » Belangrikste : Hoeveel swart spelers is in die Australiaanse/N Zeelandse en
Engelse spanne? Daar bestaan nie kwotas en politieke korrektheid nie. Wees eerlik toe?
Les bes: Waarom moet die oorsese ou lady ons afrig? Ons het puik eie Netbal-afrigters!

Connie ·

Ek stem Griet. Hulle moet die bal vang en doel. Die doelle moet oefen en oefen sodat hulle van enige afstand kan doel. Die geuitgegooiery is sommer twak. Bly om te sien hulle PUK se doel daar. Sys’s kort maar sy’s goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.