Raducanu begin op ʼn wennoot in Kalifornië

Emma Raducanu. Foto: Twitter.

Sy mag dalk laas in Melbourne gespeel het – toe Coco Gauff haar in die tweede ronde van die Australiese Ope geklop het – maar Emma Raducanu het vir Danka Kovinic in haar openingswedstryd van die Indian Wells-toernooi in Kalifornië geklop.

Ondanks ʼn gewrigbesering wat gedreig het om weer op te vlam, het die jong Brit die wedstryd met 6-2 en 6-3 gewen.

Hoewel sy die eerste twee potte van die wedstryd verloor het, het sy terugbaklei om ses potte op ʼn streep te wen.

“Dit was ʼn goeie wedstryd. Danka is ʼn taai teenstander en ek het geweet dit gaan moeilik wees om haar te troef. Ek is egter dankbaar om na die volgende ronde deur te dring,” het Raducanu gesê.

Die Toronto-boorling het twee jaar gelede die verbeelding van die tenniswêreld aangegryp toe sy in New York in die Amerikaanse Ope die septer geswaai het.

Sy het in 2021 onder meer die eerste kwalifiseerder geword om ʼn Grand Slam-titel te wen, terwyl sy ook die eerste vrouespeler sedert Serena Wiliams in 2014 geword het om nie ʼn stel in die Amerikaanse Ope af te staan nie.

Met ander woorde, sy was ’n groter treffer as die Spice Girls in Engeland.

Sy het egter vir ʼn hele ruk met haar spelpeil gesukkel terwyl beserings ook nie haar loopbaan ʼn hupstoot gegee het nie.

Raducanu is tans 77ste op die WTA-ranglys nadat sy vroeër onder die toptien-vrouespelers ter wêreld getel het. Haar kritici meen dat sy meer op borgskappe as haar spel konsentreer.

Intussen het Stan Wawrinka, Diego Schwartzman en Andy Murray ook hul eerste wedstryde van die Indian Wells-toernooi gewen.

  • Uitslae:

Thanasi Kokkinakis klop Brandon Holt met 6-4 en 6-1

Jack Draper klop Leandro Riedi met 6-1 en 6-1

Stan Wawrinka klop Aleksandar Vukic met 6-4, 1-6 en 6-1

Jordan Thompson klop Gael Monfils met 6-3 en 6-1

Diego Schwartzman klop Federico Coria met 6-1 en 6-2

Adrian Mannarino klop Dominic Thiem met 4-6, 6-4 en 7-6

Richard Gasquet klop Borna Gojo met 6-4, 6-7 en 6-2

Andy Murray klop Tomas Etcheverry met 6-7, 6-1 en 6-4

Sofia Kenin klop Sloane Stephens met 6-4 en 6-1

Emma Raducanu klop Danka Kovinic met 6-2 en 6-3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.