Rafa en Roger kan swaarde in Parys kruis

Rafael Nadal van Spanje (regs) en Switzerland se Roger Federer (7 Junie 2019) (AP Photo/Pavel Golovkin)

Volgens die Franse Ope se toernooi-direkteur, Guy Forget, is daar ’n moontlikheid dat Rafael Nadal en Roger Federer se paaie gedurende die tweede week van die tennisskouspel op Roland Garros kan kruis.

Maar dit sal hoegenaamd nie ’n maklike roete vir die 39-jarige Switserse speler wees nie.

Terwyl Nadal amok op kleibane maak – hy het onlangs vir Novak Djokovic in die eindstryd van die Italiaanse Ope ore aangesit – het ’n gefrustreerde Federer weer na die oefenbaan ná sy nederlaag in Genève teruggekeer.

Maar volgens Forget, ’n voormalige Franse speler, sal aksie op Roland Garros van onskatbare waarde vir Federer wees. Veral met sy geliefde Wimbledon om die draai.

“Kleibane verg dat ’n speler met presisie moet speel. Hoe beter Roger op hierdie bane speel, hoe beter sal hy by Wimbledon vaar,” het Forget gesê.

Die twee sterre het al vyf keer op Roland Garros kragte gemeet, met Nadal wat ongetwyfeld die beter speler op klei is.

Die Spanjaard het hul vorige kragmeting (die halfeindstryd van die 2019-toernooi) met 6-3, 6-4 en 6-2 gewen.

“As daar nie iemand soos ’n Rafael Nadal was nie, is ek daarvan oortuig dat Roger teen hierdie tyd al seker vyf of ses Franse Ope-titels agter sy naam sou gehad het.”

Federer het egter self vroeër die week gesê dat hy nie ’n kans staan om vir Nadal te onttroon nie.

“Wanneer ’n mens so min gespeel het en jy jou eie vermoë ken, hoe kan jy daaraan dink om die Franse Ope te wen?” het hy gevra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.