Rafa het respek vir Lloyd se vurige afslane

Rafael Nadal is in die derde ronde van die Citi-Ope deur Lloyd Harris uitgeskakel. Foto: Twitter.

Vandag se nederlaag teen Lloyd Harris in die Citi-Ope moes ’n bittersoet ervaring vir Rafael Nadal gewees het. Die Spanjaard hou immers niks daarvan om ’n tenniswedstryd te verloor nie, tog is hy terselfdertyd ook dankbaar hy beter op die baan kon rondbeweeg – veral met die oog op die Amerikaanse Ope wat om die draai is.

Die 35-jarige ster het sy voet in sy vorige wedstryd teen Jack Sock seergemaak, maar dinge het beter in die Harris-stryd gegaan.

Maroela Media het vroeër berig dat die jong Suid-Afrikaner die legendariese Nadal in drie stelle uitgeskakel het.

Harris beleef ’n droomlopie op die tennisbaan en hy het reeds vanjaar met Stan Wawrinka, Dominic Thiem, Kei Nishikori, Denis Shapovalov, Grigor Dimitrov en Gaël Monfils afgereken.

Suid-Afrika se Lloyd Harris. Foto: Twitter.

En Nadal het ook waardering vir die Suid-Afrikaner se spel – en veral sy afslane – gehad.

“Ek het teen iemand kragte gemeet wat baie goeie tennis gespeel het. Ek dink wel dat ek nou beter as in my vorige wedstryd gespeel het, maar sy afslane was só goed,” het die wenner van 20 Grand Slam-titels gesê.

“Daarteenoor het ek effens met my afslane gesukkel en ek het simpel foute in die laaste stel gemaak. Dit is ’n groot oorwinning vir Lloyd en ek wens hom alle sterkte vorentoe.”

Dit was die Spanjaard se eerste besoek aan Washington en hy het elke geleentheid aangegryp om die stad te verken.

“Die hartseerding is dat ek nie môre weer voor hierdie ongelooflike ondersteuners sal kan speel nie. Ek het vandag baie hard probeer, maar dit was net nie goed genoeg nie.”

Volgens Nadal sukkel hy eintlik al geruime tyd met ’n voetbesering en dit is een van die redes waarom hy nie by Wimbledon en die Olimpiese Spele in aksie was nie.

“Ek het ’n moeilike paar maande agter die blad en ek kon soms nie eens oefen nie, maar vandag het ek baie beter op die baan beweeg. Dit is vir my belangrik want ek wil aanhou om die sport te geniet en te glo dat alles moontlik is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.