Rafa kan weer no. 1 wees

Rafael Nadal. Foto: Twitter.

Rafael Nadal kan binnekort weer as die voorste tennisspeler ter wêreld bekendstaan. Tog is daar altyd ’n voorwaarde of twee betrokke wanneer daar oor ranglysdinge gesels word.

Die 36-jarige Spanjaard sal die Western & Southern-ope in Cincinnati moet wen, terwyl Daniil Medvedev (die huidige wêreldno. 1-speler) vóór die kwarteindstryde uitgeskakel moet word.

“Dit beteken vir my ongelooflik baie dat ek ’n geleentheid kry om weer die voorste speler ter wêreld te wees. Ek het nie gedink so iets sal weer my pad langs kom nie,” het Nadal gesê.

’n Maagspierbesering het hom uit die ATP-toernooi in Kanada gehou, terwyl hy ook al vanjaar met sy ribbe en voet gesukkel het. Tussen al die pyne en skete deur speel hy egter kookwater tennis en het hy onder meer met die Grand Slam-louere in Melbourne en Parys weggestap.

“My grootste prioriteit is om fiks te bly en om in die belangrike toernooie te speel. Hoewel ek nie in elke toernooi in aksie sal wees nie, sal ek my heel beste gee wanneer ek wel speel.”

Nadal speel môre teen Borna Coric in sy eerste wedstryd van die Cincinnati-skouspel en hy erken dat hy waarskynlik nie op alle suiers sal vuur nie.

“Wanneer jy ’n ruk langs die baan was, is dit onmoontlik om ’n perfekte wedstryd te verwag wanneer jy dan weer ’n speelkans kry. Dit is belangrik om dan nederig te bly en jou bes te doen om die terugkeerwedstryd te wen. Sodoende word wen weer ’n gewoonte.”

Die Spaanse ster word reeds as een van die heel beste tennisspelers nóg bestempel en dit is veral sy heldedade op Roland-Garros (waar hy al 14 keer die silwerware omhoog gehou het) wat die spel se puriste beïndruk.

Volgens die Brit Andy Murray sal ’n speler hom uit sy sokkies moet speel indien hy enige drome koester om Nadal se rekord in Parys te ewenaar.

“’n Talentvolle speler soos Carlos Alcaraz is nou 19 jaar oud. Indien hy gelyk met Nadal wil breek, sal hy elke liewe Franse Ope-toernooi moet wen totdat hy 33 jaar oud is. Ek dink nie dit sal sommer gebeur nie,” het Murray gesê.

  • Die jongste ATP-ranglys:
  1. Daniil Medvedev
  2. Alexander Zverev
  3. Rafael Nadal
  4. Carlos Alcaraz
  5. Casper Ruud
  6. Novak Djokovic
  7. Stefanos Tsitsipas
  8. Andrey Rublev
  9. Felix Auger-Aliassime
  10. Hubert Hurkacz

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.