Rafa maak ordentlik litte los

Rafael Nadal het goed gelyk in sy vertoonwedstryd teen Carlos Alcaraz. (Foto: David Becker/Getty Images North America via AFP)

Rafael Nadal se tennis-enjin begin om stelselmatig weer seepglad te luier.

Die wenner van 22 Grand Slam-titels het Sondag in ʼn vertoonwedstryd teen Carlos Alcaraz litte losgemaak vir die komende Indian Wells-toernooi.

Hoewel die 37-jarige Spanjaard die tennisskouspel met 3-6, 6-4 en 14-12 teen sy veel jonger landgenoot in Las Vegas verloor het, het hy goed op die baan gelyk en oudergewoonte met sy veggees beïndruk.

Hy het as’t ware ook die horlosiewysers teruggedraai om ʼn paar houe te speel waarmee net Rafael Nadal vorendag kan kom.

“Ek voel baie beter as wat ek verwag het,” was sy doodeerlike antwoord nadat hy die eerste stel beklink het.

Nadal speel Woensdagaand of vroeg Donderdagoggend (SA tyd) in sy Indian Wells-openingswedstryd teen Kanada se Milos Raonic.

Die Spaanse tennisster het die meeste van die groot toernooie in 2023 misgeloop nadat ʼn heupbesering en -operasie hom langs die baan gehou het.

Sy aanvanklike terugkeer in Januarie is deur nóg ʼn besering kortgeknip.

Nadal het in die kwarteindstryd van die Brisbane International-toernooi mediese behandeling ontvang nadat hy oor ongemak in sy linkerbobeen gekla het. Daar is later bevestig dat hy ’n baie klein skeurtjie in sy spier opgedoen het.

Die komende wedstryd teen Raonic beloof boonop om ʼn taai tweestryd te wees.

Nadal het weliswaar agt van die tien wedstryde tussen die twee spelers gewen, maar die Kanadees het hom in hul vorige wedstryd in Kalifornië geklop.

Die Spanjaard het reeds drie keer met die Indian Wells-louere weggestap, terwyl hy in 2022 na die eindstryd deurgedring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.