Rafa marsjeer voort in Melbourne

Rafael Nadal is deur na die derde ronde van die Australiese Ope. Foto: Martin Keep/AFP.

Rafael Nadal is steeds op koers om ’n moontlike 21ste Grand Slam-titel in Melbourne te wen nadat hy Yannick Hanfmann in Melbourne geklop het.

Die Spanjaard het sy tweederondewedstryd met 6-2, 6-3 en 6-4 gewen.

Tog het die wedstryd amper drie uur geduur en die 30-jarige Duitser het sy teenwoordigheid op die baan met ’n paar kragtige houe laat geld.

“Yannick is ’n sterk speler met ’n goeie afslaan en baie potensiaal. Hy is ’n baie beter speler as iemand wat 126ste op die wêreldranglys is,” het Nadal ná die wedstryd gesê.

Die 35-jarige hotklou se huidige spelpeil behoort sy selfvertroue ’n hupstoot te gee nadat ’n voetbesering hom vir ’n hele paar maande langs die baan gehou het.

Benewens sy sukses in die eerste twee wedstryde van die Australiese Ope, het hy ook die voorafgaande Summer Set 1-skouspel (’n ATP 250-toernooi) in Melbourne gewen.

Jim Courier, die voormalige wêreldno. 1-speler, het Nadal ná die Hanfmann-kragmeting gevra hoe hy dit regkry om so  fiks te bly.

“Ek speel gholf,” het hy onmiddellik met ’n glimlag geantwoord.

“Dit maak nie saak of ek meer tyd op die oefenbaan of in die gimnasium spandeer nie, my uiteindelike doelwit is om gereed vir enige uitdaging op die baan te wees.”

Dan het die topgekeurde Ashleigh Barty net 52 minute nodig gehad om Lucia Bronzetti van Italië uit te skakel. Die eindtelling was 6-1 en 6-1 in die Australiër se guns.

Haar afslane is veral ’n kragtige wapen en sy staan nie sommer ’n pot af wanneer sy moet afslaan nie.

“Dit is iets waaraan ek hard werk. Ek is glad nie die grootste meisie nie, maar ek weet dat goeie tegniek en ritme wondere op die baan kan verrig,” het die wêreld se voorste vrouespeler gesê.

Uitslae:

Ashleigh Barty (1) klop Lucia Bronzetti met 6-1 en 6-1

Paula Badosa (8) klop Martina Trevisan met 6-0 en 6-3

Rafael Nadal (6) klop Yannick Hanfmann met 6-2, 6-3 en 6-4

Victoria Azarenka (24) klop Jil Teichmann met 6-1 en 6-2

Pablo Carreno Busta (19) klop Tallon Griekspoor met 6-3, 6-7, 7-6, 3-6 en 6-4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

MakersMark ·

Tubac dis verstommend dat Nadal so goed doen ten spyte van sy inenting. As mens na antivaxers luister moes hy nou al omgeval het ? Dink novax kou sy raketsnare soos jy se…..

Cobus ·

Snaaks, is dit nie juis wat met ons anti zappers moet gebeur nie? Na 2 jaar is ons nog steeds hier, hoe voel jou arm? Tyd vir ‘n booster, want 3 glo nie genoeg nie.

Jean ·

Ons.. so die mense wat elkedag dood gaan aan covid sonder vaccine is nie deel van “ons” nie.

Treurwilger ·

Rafa is goed op koers.
Wie ookal as nuwe kampioen gekroon word, toekomstige joernale sal toon dat die verdedigende 9x kampioen in 2022 op amper Donker Middeleeuse wyse verstoot is uit ‘n Covid-samelewing wat géén alternatiewe denke geduld het nie.
Verstommend dat ‘n siektevirus en onverdraagsaamheid ‘n einde moes maak aan Djokovic se fenomenale suksesse.

Gerra ·

Sal nooit die ware wenner kan wees, want hy het nooit teen die ware kampioen gespeel. Lagwekkend om jouself op die skouer te klop wetende dat jy nooit al die opponente getoets het nie.

Jean ·

Geskiedenis onthou die wenners, nie hoe hulle daar gekom het nie.

Dirk Mostert ·

En hy was die grootste betoger teen Jokovic. Nie goeie sportmanskap nie.

johan ·

Nadal het baie oor Novak kwytgeraak en hom deurentyd aangeval terwyl talle ander tennis spelers Novak ondersteun het. Nadal lewe in ewige vrees vir Novak op die baan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.