Rafa sê ook nee vir Madrid

Rafael Nadal. (Foto: Twitter/Franse Ope)

Rafael Nadal sal ook nie in die Madrid-meesterstoernooi afslaan nie. Die 36-jarige speler het vandag op sosiale media gesê dat hy steeds las van ʼn seer heup het.

“Ek het die toernooie in Monte Carlo en Barcelona misgeloop en ek sal ongelukkig ook nie in Madrid kan speel nie. Ek het nog nie volkome van die besering herstel nie,” het die Spaanse ster in ʼn videoboodskap gesê.

Hoewel hy gereeld foto’s van sy oefensessies op Twitter deel, het hy hom bitter lanklaas in ʼn wedstrydsituasie bevind.

Sy laaste wedstryd was teen Mackenzie McDonald in die Australiese Ope – ʼn kragmeting waarin hy sleg tweede gekom het.

Nadal, wat ʼn rits wedstryde in aanloop tot die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar verloor het, het toe weer eens met sy beweeglikheid gesukkel nadat hy sy heup in die tweede stel teen McDonald seergemaak het.

Dit was sy swakste vertoning by ʼn Grand Slam in sewe jaar.

Die aanvanklike diagnose het getoon dat die veteraanspeler moontlik net vir ses weke langs die kantlyn sou wees. Hy is egter nou in ʼn wedloop teen tyd gewikkel om gereed vir sy geliefde Franse Ope te wees.

Nadal spog met ʼn ongelooflike 14 titels in Parys en hy het ná verlede jaar se sukses op Roland-Garros gesê hy sal nie sommer handdoek ingooi nie.

“Vir my is die Franse Ope die beste toernooi in die hele wêreld. Dit is moeilik om my emosies te beskryf; ek het nooit gedink dat ek op 36-jarige ouderdom hier sal kan staan en steeds mededingende tennis speel nie. Ek weet nie noodwendig wat die toekoms vir my inhou nie, maar ek sal aanhou veg,” het hy onder luide applous gesê terwyl hy die trofee in ontvangs neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.