Rafa se terugkeer om die draai

Rafael Nadal in aksie tydens sy wedstryd teen Roger Federer in Kaapstad. (AP/Halden Krog)

Die “Koning van Klei” sal na verwagting sy tennisterugkeer op die harde bane van Australië maak wanneer hy op 4 Januarie by ’n ATP 250-toernooi in Melbourne kan afslaan.

’n Voetbesering het die Spaanse speler geruime tyd langs die baan gehou en hy het onder meer die Olimpiese Spele en die Amerikaanse Ope misgeloop.

Sy laaste wedstryd was in Augustus toe hy teen Suid-Afrika se Lloyd Harris by die Citi-Ope in Washington vasgeval het.

Nadal het hom ’n kort rukkie ná die Harris-wedstryd ook aan die Kanadese Ope in Toronto onttrek, terwyl hy ’n paar dae later aangekondig het dat sy 2021-seisoen iets van die verlede is.

“Ek sukkel eerlikwaar baie met my voet en ek het voldoende tyd nodig om te herstel,” het die wenner van 20 Grand Slam-titels getwiet.

Nodeloos om te sê, die Franse Ope sal weer sy hoofdoelwit in die nuwe jaar wees.

Die 35-jarige speler was vanjaar goed op koers om sy 14de titel in Parys te wen, maar hy is deur ’n veglustige Novak Djokovic in die halfeindstryd geklop.

“Ek brand om in 2022 weer die Franse Ope my toernooi te maak,” het hy vroeër in ’n onderhoud gesê.

Die Spanjaard het Djokovic ook geloof vir die wyse waarop hy op die beroemde kleibaan gespeel het.

“Novak het toe slimmer gespeel, terwyl hy ook fisiek sterker was. Ek wou so lank as moontlik op Roland Garros wen, maar die droom het net tydelik ontspoor.”

Suid-Afrika se Kevin Anderson en Japan se Kei Nishikori sal saam met Nadal in Melbourne afslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.