Rafa verloor sy ranglysplek

Rafael Nadal. (Foto: Eduardo Munoz Alvarez, AP)

Rafael Nadal tel vir die eerste keer sedert 2017 nie onder die voorste vier tennisspelers ter wêreld nie.

Die 35-jarige Spanjaard het vanjaar die aksie op Wimbledon en by die Olimpiese Spele misgeloop, terwyl hy verlede week bevestig het dat sy voetbesering hom ook uit die Amerikaanse Ope in New York sal hou.

Maar in Nadal se afwesigheid is Alexander Zverev besig om ranglysspronge te maak.

Die jong Duitser is nou vierde op die amptelike ATP-ranglys nadat hy die Olimpiese goue medalje in Tokio ingeoes het én met Andrey Rublev in die eindstryd van die afgelope Cincinnati-meesterstoernooi afgereken het.

Alexander Zverev. Foto: (AP Photo/Andy Brownbill)

Die jongste verwikkelinge behoort hom te laat glimlag – hy het juis vantevore oor Roger Federer se houvas op die ranglys gekla en die hele storie as ’n klug bestempel.

“Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Ek is Roger Federer se grootste ondersteuner, maar hoe is dit moontlik dat hy vir ’n jaar nie speel nie en steeds bo my op die wêreldranglys is?” het Zverev destyds gevra.

Stefanos Tsitsipas en Daniil Medvedev is onderskeidelik derde en tweede op die ranglys, terwyl die 34-jarige Novak Djokovic steeds die wêreld se voorste speler is.

ATP-ranglys:

  1. Novak Djokovic 11 113 punte
  2. Daniil Medvedev 9 980 punte
  3. Stefanos Tsitsipas 8 350 punte
  4. Alexander Zverev 8 240 punte
  5. Rafael Nadal 7 815 punte
  6. Dominic Thiem 6 995 punte
  7. Andrey Rublev 6 400 punte
  8. Matteo Berrettini 5 533 punte
  9. Roger Federer 4 125 punte
  10. Denis Shapovalov 3 580 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Elinette

As jy oud raak, raak jy oud!