Rafa wil Laverbekertennis speel

Roger Federer en Rafael Nadal op die Laverbeker-verhoog. (Foto: Twitter. )

Organiseerders van die Laverbeker het bevestig dat Rafael Nadal later vanjaar in Berlyn saam met ander sterre soos Carlos Alcaraz, Alexander Zverev en Daniil Medvedev in die blou van Europa te siene sal wees.

Nadal was al drie keer vantevore deel van die Laverbeker-aksie en hy vertel dat die toernooi al vir vele hoogtepunte gesorg het.

“Ek het baie goeie herinneringe van die toernooi; insluitend al die emosies van die laaste wedstryd saam met Roger [Federer],” het hy gesê.

Nadal was in Federer se hoekie toe die Switserse tennislegende sy laaste mededingende wedstryd teen die Wêreldspan se Jack Sock en Frances Tiafoe in Londen gespeel het.

Nou staan die Spanjaard se loopbaan ook einde se kant toe en daar word in tenniskringe gefluister dat Nadal die spel net soos sy goeie vriend kan vaarwel roep: In die blou van Span-Europa.

“Op dié stadium van my loopbaan wil ek die meeste van elke liewe speelgeleentheid maak. Om saam met van die topspelers in ʼn span te wees, is ʼn ongelooflike ervaring en ek het dit nog altyd geniet. Ek is opgewonde oor die Berlynse avontuur wat wag en om vir Europa te help om weer die Laverbeker te wen.”

Nodeloos om te sê is spankaptein Björn Borg opgewonde oor Nadal se beskikbaarheid.

“Rafa is ʼn legende, ʼn ware kampioen en een van die beste spelers wat nog ooit ʼn tennisraket vasgehou het. Dit sal my laaste jaar as kaptein wees en om hom weer deel van die spanopset te hê is ʼn droom wat waar geword het,” het die voormalige Sweedse wêreldnommereenspeler gesê.

Die Laverbeker word van 20 tot 22 September in Berlyn aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.