Rafa wil weer in Parys wen

Rafael Nadal (Foto: Roland Garros, Twitter)

In Junie het die ondenkbare gebeur: Novak Djokovic het vir Rafael Nadal in die halfeindstryd van die Franse Ope geklop.

Sodoende is die Spaanse tennisster se opmars na sy 14de titel in Parys gestuit en die weg is vir die Serwiër gebaan om sy 19de Grand Slam-titel ’n paar dae later teen Stefanos Tsitsipas te wen.

Nadal was oud en wys genoeg om die teleurstelling te hanteer.

“Ek is natuurlik hartseer om in my belangrikste toernooi van die jaar te vas te val, maar die lewe gaan voort. As ’n mens mooi daaroor dink, is dit eintlik net ’n nederlaag op ’n tennisbaan,” het Nadal gesê.

“As alles volgens plan verloop, hoop ek om môre saam met my familie en vriende by die huis te wees. Maar volgende jaar is ek terug. En as die Here wil, met die nodige selfvertroue en werksetiek om vir myself nog ’n kans te gee om die toernooi te wen.”

Sedertdien het ’n besering hom op die kantlyn gehou en het hy verskeie groot toernooie – soos die Olimpiese Spele en die Amerikaanse Ope – misgeloop.

Maar die Franse Ope is die spilpunt waarom alles draai en die 35-jarige speler het weer eens beloof dat hy volgende jaar alles in die stryd sal werp om nóg ’n titel in Parys te wen.

“Ek brand om in 2022 weer die Franse Ope my toernooi te maak.”

Die Spanjaard het ook Djokovic geloof vir die wyse waarop hy op die beroemde kleibaan gespeel het.

“Novak het toe slimmer gespeel, terwyl hy ook fisiek sterkter was. Ek wou so lank as moontlik op Roland Garros wen, maar die droom is tydelik ontspoor.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.