Ralf wil hê Max moet titel wen

Max Verstappen agter die stuur van sy renmotor. Foto: Twitter.

Volgens Ralf Schumacher verdien Red Bull se Max Verstappen dit om die uiteindelike F1-kampioen te wees.

Die 23-jarige Nederlander was vroeër die seisoen goed op koers op ’n makliker titelpad ná ’n rits agtereenvolgende oorwinnings, maar sedert die Silverstone Grand Prix wil dinge maar net nie reg loop nie.

Hy is tans agt punte agter Lewis Hamilton op die jaer-punteleer, terwyl Red Bull ook onder Mercedes op die vervaardiger-ranglys staan.

“Dit is eerstens baie lekker om te sien dat Mercedes nie meer die hele storie oorheers nie. Dan vaar Max ook uitstekend in die individuele kompetisie; dit lyk of sy renmotor net vinniger as dié van die res is,” het Schumacher gesê.

Die 46-jarige jonger broer van die Ferrari-legende Michael Schumacher geniet ook Verstappen se tweestryd met Hamilton.

“Ek is egter taamlik seker dat die Silverstone-ongeluk nie die laaste keer is dat hulle mekaar op die renbaan sal tref nie.”

Verstappen en Hamilton het toe swaarde om ’n draai gekruis en die Mercedes-renjaer se motor het sy Red Bull-teenstander se agterband getref.

Die blitsige Red Bull-motor het teen amper 290 km/h getol en teen ’n versperring gebots. Hamilton se motor is beskadig, maar hy kon verder ry en hy het uiteindelik die Grand Prix gewen.

“As renjaer het Max egter baie verbeter. In die beginjare het hy net te hard probeer en hopeloos te aggressief bestuur. Nou sien ons ’n gans ander Max Verstappen en as ontleder geniet ek die gedaanteverwisseling baie.”

Volgens Schumacher moet die beste bestuurder met die titel wegstap; Verstappen én Hamilton val tans in die “beste”-kategorie.

“Persoonlik wil ek sien dat Max die kampioenskap wen. Dit sal nie net ’n welkome verandering wees nie, maar ek glo ook dat hy dit verdien.”

Die F1-aksie word op 29 Augustus in België hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alta Alleman

Go Max !!!!

Elinette

Heel aan die begin, toe Verstappen net-net begin jaag het, was hy nie ‘n gunsteling vir my nie. Ek het altyd gesê hy jaag onverskillig en gaan nog eendag iemand (of dalk sy eie) dood veroorsaak in ‘n ren. Maar nou het hy ontpop tot ‘n waardige jaer wat HL dalkies net ore kan aansit. You go, Max!!!!!

Jasper

Hy kan as Hamilton hom nie weer uit die pad stamp nie.