Rateltaai Britse soldaat gee fiksheidsraad

Foto: Twitter.

Ant Middleton is nie iemand wat stories van kabouters duld nie.

Die 40-jarige Engelsman was vir 13 jaar deel van die Britse weermag, waarvan hy vir vier jaar ’n skerpskutter in die Special Boat Service (SBS) was. Hy het onder meer ’n groep soldate in Afghanistan gelei.

Deesdae is hy een van die instrukteurs op die gewilde werklikheidsprogram SAS: Who dares wins, terwyl hy ook Everest in een van sy TV-programme uitgeklim het.

Goeiste, die televisiebase het hom ook gevra om in die voetspore van kapt. William Bligh in die Mutiny-reeks te volg.

Die bemanningslede van die HMS Bounty het in 1789 genoeg van hul kaptein gehad en Bligh moes noodgedwonge (saam met ’n paar lojale matrose) ongeveer 6 500 km per roeiboot na veiligheid aandurf.

Middleton en sy span het Bligh se epiese reis suksesvol aangedurf.

Maar wat het dié hardebaard oor fiksheid te sê; veral noudat hy 40 jaar oud geword het?

“Ek het my altyd in die gimnasium gebreek want ek was jonk genoeg om daarmee weg te kom. Deesdae probeer ek eerder om na my lyf te luister deur meer funksionele bewegings te doen,” het Middleton in ’n onderhoud gesê.

Dit sluit dan oefeninge in wat daaglikse aktiwiteite – soos om iets van die grond af op te tel – naboots. Optrekke en opstote is juis van sy gunstelingbewegings.

Foto: Twitter.

“Kyk, almal van ons wil goed lyk. Maar dit help veel as jy 40 is en jy kan skaars twee kilometer draf. Ek lag altyd lekker wanneer ek sien hoe ouens massiewe gewigte in die gimnasium rondgooi, maar hulle kan kwalik een behoorlike optrek doen.”

Volgens Middleton wens hy dat hy in sy jonger dae meer tyd aan strekoefeninge spandeer het.

“Ek sukkel deesdae baie met soepelheid en ek dink dit is omdat ons nie veel aandag daaraan gegee het nie – jy het nooit tyd om op te warm wanneer jy in ’n oorlogsituasie is nie. Maar om vir 15 of 20 minute ná ’n oefensessie te strek is beslis die moeite werd.

“Dit is belangrik dat mense besef dat ek nie in ’n gimnasium boer of heeltyd met een of ander dieet doenig is nie. Ek sorg bloot dat my oefensessies nie net volhoubaar is nie, maar ook by my leefstyl pas.”

Op die ou einde is sielkundige krag ongetwyfeld belangriker as spierkrag.

“Soos wat ek ouer word, probeer ek meer as ooit vantevore om myself uit te daag en nuwe dinge aan te leer. As dinge te maklik is, dan is dit waarskynlik nie reg nie.”

Veerkragtigheid is ongelooflik belangrik en ’n mens moet uit jou foute leer.

“Die lewe gaan oor terugslae en hoe ons dan terugveg. Sodra jou brein die handdoek ingooi, sal jou lyf ook die aftog blaas – moet dus nie bang wees om as mens te groei nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.