Red Bull glimlag breed in Mexiko

Red Bull het fees in Mexiko gevier! Foto: Twitter.

Dit was gister ’n goeie dag vir Red Bull in Mexiko. Max Verstappen het sy derde wedren in dié land gewen, terwyl Sergio Perez die eerste Mexikaanse renjaer geword het om op die podium in sy geboorteland te staan.

O ja, Verstappen het nou ’n voorsprong van 19 punte op die jaerspunteleer, terwyl Mercedes se oorheersing van die vervaardigerspunteleer na net een punt gekrimp het.

Red Bull het sommer so uit die staanspoor dinge vir Mercedes op die baan bemoeilik.

Verstappen het Hamilton en die arme Valtteri Bottas sommer kort na die wegspring reeds verbygesteek, terwyl Perez vir ’n hele paar rondes die voorloper was – óók ’n eerste in Mexiko.

Hamilton was duidelik bekommerd en ’n amper benoude “hulle is baie vinniger” is oor die spanradio gehoor. Die verdedigende wêreldkampioen het egter genoeg gedoen om tweede te eindig (amper 17 sekondes ná Verstappen), terwyl 138 435 patriotiese toeskouers fees gevier het toe Perez derde klaargemaak het.

“Dit is ’n ongelooflike dag. Gewoonlik is renjaers so mededingend van aard dat ons nie eintlik daarvan hou om derde te eindig nie, maar vandag is ek baie dankbaar. Dit is wonderlik om my mense só gelukkig te sien,” het Perez ná die afloop van die wedren gesê.

“Ek moet vir Max geluk wens. Hul motor is verreweg die beste hierdie naweek en daar was niks wat ons daaromtrent kon doen nie,” het Hamilton gesê.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lewis Hamilton (Mercedes)
  3. Sergio Perez (Red Bull)
  4. Pierre Gasly (AlphaTauri)
  5. Charles Leclerc (Ferrari)
  6. Carlos Sainz (Ferrari)
  7. Sebastian Vettel (Aston Martin)
  8. Kimi Raikkonen (Alfa Romeo)
  9. Fernando Alonso (Alpine)
  10. Lando Norris (McLaren)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 312,5 punte
  2. Lewis Hamilton 293,5 punte
  3. Valtteri Bottas 185 punte
  4. Sergio Perez 165 punte
  5. Lando Norris 150 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Mercedes 478,5 punte
  2. Red Bulle 477,5 punte
  3. Ferrari 268,5 punte
  4. McLaren 255 punte
  5. Alpine 106 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MakersMark ·

Max was briljant, daai verbygaan op draai 1 na die begin was briljant. En daarna toe die Honda enjin begin sing was daar net een wenner.

Jr ·

Hulle: Wie support jy in F1.?
Ek : Enige iemand wat Hamilton wen of in hom vas jaag.

KB ·

Bly vir RedBull, verseker.
Maar Vettel bly my held…sewende vir Aston Martin. Ek is bly vir hom.
Wie is Hammilton?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.