Red Bull herskryf die geskiedenisboeke

Max Verstappen het nóg ’n wedren gewen. (Foto: Marton Monus/AFP)

ʼn Vlieënde Max Verstappen het vandag in Hongarye toegesien dat Red Bull se naam in die geskiedenisboeke geskryf word.

Dit was die span se 12de oorwinning op ʼn streep – ʼn nuwe F1-rekord. Die vorige rekord het agter McLaren se naam gestaan toe Ayrton Senna en Alain Prost in 1988 die een wedren ná die ander gewen het.

Verstappen het ook sy naaste teenstander – Lando Norris in ʼn McLaren – met 33 sekondes ore aangesit. Dit is die jong Nederlander se sewende individuele sege in ʼn ry en hy het tans nie sy gelyke op ʼn renbaan nie.

Sergio Perez het gesorg dat nog ʼn Red Bull-renjaer op ʼn podium staan, maar hy moes net vóór die eindstreep bontstaan om ʼn hernieude aanslag van Lewis Hamilton af te weer.

So van Hamilton gepraat; die 38-jarige Brit het heel eerste weggespring, maar hy is binne ʼn oogwink deur Verstappen en Oscar Piastri verbygesteek.

Hy moes uiteindelik met ʼn vierde plek tevrede wees.

Dit lyk ook nie of dinge veel beter vir Charles Leclerc word nie. Die Ferrari-renjaer het weer koppe met sy span oor die wedrenstrategie gestamp, terwyl hy ook met ʼn paar waardevolle sekondes beboet is omdat te vinnig in die kuipe gejaag het.

Daniel Ricciardo het sy renbaan-terugkeer met ʼn 13de plek vir AlphaTauri gevier.

“Om 12 oorwinnings saam met die span te vier is ʼn ongelooflike ervaring. Hopelik kan ons die momentum aan ons kant hou. Ek geniet dit om saam met die hele span te werk,” het Verstappen na afloop van die wedren gesê.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lando Norris (McLaren)
  3. Sergio Perez (Red Bull)
  4. Lewis Hamilton (Mercedes)
  5. Oscar Piastri (McLaren)
  6. George Russell (Mercedes)
  7. Charles Leclerc (Ferrari)
  8. Carlos Sainz (Ferrari)
  9. Fernando Alonso (Aston Martin)
  10. Lance Stroll (Aston Martin)
  11. Alex Albon (Williams)
  12. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)
  13. Daniel Ricciardo (AlphaTauri)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 281 punte
  2. Sergio Perez: 171 punte
  3. Fernando Alonso: 139 punte
  4. Lewis Hamilton: 133 punte
  5. George Russell: 90 punte
  6. Carlos Sainz: 87 punte
  7. Charles Leclerc: 80 punte
  8. Lando Norris: 60 punte
  9. Lance Stroll: 45 punte
  10. Esteban Ocon: 31 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 452 punte
  2. Mercedes: 223 punte
  3. Aston Martin: 184 punte
  4. Ferrari: 167 punte
  5. McLaren: 87 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.