Reën ontwrig kwarteindronde by Franse Ope

Novak Djokovic, die verdedigende kampioen, speel Woensdag in die kwarteind van die Franse Ope (Foto: AP Photo/Michel Euler/ wire.africannewsagency.com)

Die Franse Ope se kwarteindwedstryde wat Dinsdag sou plaasvind, is erg deur reën in die wiele gery, maar in die twee vrouewedstryde wat wel voltooi is, het die 19-jarige Jelena Ostapenko en Timea Bacsinszky na die halfeind deurgedring.

Ostapenko het Caroline Wozniacki in drie stelle met 4-6, 6-2, 6-2 geklop en Bacsinszky het in twee stelle met 6-4, 6-4 met Kristina Mladenovic klaargespeel.

Die twee wedstryde is voltooi nadat die spelers sowat drie uur van die baan was tydens twee reënonderbrekings.

Daar is toe reeds besluit dat Dinsdag se twee mans-kwarteindwedstryde na Woensdag uitgestel word.

♦ Wozniacki het die eerste stel teen Ostapenko met 6-4 afgehandel, maar ná die eerste reënonderbreking het Ostapenko die tweede stel met 6-2 ingepalm. Wozniacki was met 2-1 in die beslissende stel voor, toe die reën weer met mening uitgesak het.

Ná die tweede onderbreking (ongeveer 30 minute) het Ostapenko, wat ná drie wedstryde nog nooit teen Wozniacki verloor het nie, gaandeweg die oorhand gekry en die beslissende stel met 6-2 gewen.

Ostapenko is die eerste tiener sedert Ana Ivanovic in 2007 wat die halfeindronde by die Franse Ope haal.

♦ Op die Phillipe-Catrierbaan het Bacsinszky die eerste stel met 6-4 teen Mladenovic gewen. Vroeg in die tweede stel, ná die reënonderbreking, het Mladenovic op Bacsinszky se afslaan deurgebreek. Bacsinszky het onmiddellik in die volgende pot teruggebreek.

Op 4-3 in Bacsinszky se guns is die wedstryd weer deur reën onderbreek. Mladenovic het verbete teruggeveg, maar uiteindelik was dit Bacsinszky wat met 6-4, 6-4 deurgedring het.

Aangepaste wedstrydtye vir Woensdag –

Mans-kwarteind:
11:00
P. Carreño Busta (20) vs R. Nadal (4)
D. Thiem (6) vs N. Djokovic (2)
15:15
S. Wawrinka (3) vs M. Čilić (7)
A. Murray (1) vs K. Nishikori (8)

Vroue-kwarteind:
14:00
E. Svitolina (5) vs S. Halep (3)
C. Garcia (28) vs K. Plíšková (2)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.