Weens die Covid-19-pandemie is sportliefhebbers uitgehonger vir ’n bietjie vars aksie op die sportkanale.
Die virus het gesorg dat talle sportgebeure, soos die Olimpiese Spele, die Superrugby-reeks en Wimbledon tereg afgelas word.
Tog het die organiseerders van World Wrestling Entertainment (WWE) se WrestleMania 36-program aangedui dat hul stoeiers steeds in aksie sal wees. Daar sal net géén toeskouers toegelaat word nie.
Ervare stoeiers soos John Cena, Goldberg en Brock Lesnar sal sake op die rofstoei-verhoog uitspook. En – as die gerugte waar is – sal dit The Undertaker se laaste vertoning wees.
Die skouspel sou aanvanklik in Tampa, Florida, voor ’n skare van 65 000 geesdriftige WWE-ondersteuners aangebied word, maar dit is intussen na die WWE-hoëprestasiesentrum in Orlando geskuif. Net die stoeiers en ander noodsaaklike personeel sal toegelaat word.
Dit sal oor twee dae aangebied word en SuperSport sal die aksie van Saterdag (om middernag) begin uitsaai.
Tog is daar baie ondersteuners wat voel dat WrestleMania 36 óók afgelas moet word.
In ’n peiling onder meer as 45 000 geesdriftiges het 81% van die respondente gevoel dat die geleentheid gekanselleer moet word. Dan het Roman Reigns, seker dié vermaakbedryf se grootste ster, ook aangedui dat hy weens gesondheidsrisiko’s nie in aksie sal wees nie.
Die gewilde Rey Mysterio is ook glo nie deel van die program nie omdat hy koronavirus-simptome getoon het.
- Van die gevegte op die spyskaart is:
Drew McIntyre teen Brock Lesnar, Braun Strowman teen Goldberg, Charlotte Flair teen Rhea Ripley, Shayna Baszler teen Becky Lynch, Daniel Bryan teen Sami Zayn, Edge teen Randy Orton, The Undertaker teen AJ Styles, John Cena teen Bray Wyatt, Kevin Owens teen Seth Rollins en Bobby Lashley teen Aleister Black.
- Die aksie sal op die WWE Channel op DStv-kanaal 128, sowel as op verskeie SuperSport-kanale uitgesaai word.
Die BESTE WWE nuus in n laaaaaaaaaaaaaang tyd!!!????