Roberto moet nie vir Lloyd onderskat

Lloyd Harris. Foto: Christine Poujoulat/AFP.

Suid-Afrika se Lloyd Harris kan vanaand ’n ekstra inskrywing in sy indrukwekkende tennisgetuigskrif van die afgelope paar weke maak wanneer hy teen Spanje se Roberto Bautista Agut in die tweede ronde van die Miami-ope te staan kom.

Die 24-jarige Kapenaar geniet deesdae die reputasie dat hy glad nie vir tennis se groot name skrik nie. Hiervan kan sy onlangse seges teen Stan Wawrinka, Dominic Thiem en Denis Shapovalov getuig.

Sy kragtige afslane kan soos ’n bom op die harde bane van Miami werk, terwyl hy vroeër die week ook sy eerste oorwinning in ’n ATP 1 000-toernooi gesmaak het toe hy die 19-jarige Emilio Nava in die eerste ronde geklop het.

Bautista Agut is egter ’n taai teenstander wat ook tans goeie tennis speel. Hy was in die eindstryd van die Katar-ope te siene, terwyl hy 12de in die wêreld gekeur is.

Hy is bekend daarvoor dat hy die bal hard en sekuur kan terugslaan en, net soos Harris se afslane, kan dit van groot waarde op die Miami-bane wees.

Volgens die amptelike ATP-webwerf sal die Spanjaard vanaand oor te veel skietgoed beskik – selfs al speel die Suid-Afrikaner op sy beste.

Tog loop Harris se selfvertroue-beker deesdae oor. Voeg daarby sy talent en aanvoeling vir die spel en jy sit met ’n baie gevaarlike speler; iemand wat topgekeurdes nie ligtelik moet opneem nie.

“Hierdie week speel ek die tipe tennis wat ek nog altyd wou speel, maar ek weet dat ek nog kan verbeter. Eintlik maak dit my baie opgewonde omdat ek weet dat ek kan verbeter, selfs wanneer ek baie lekker speel,” het Harris gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.