Roeiers se spane van goud

Louis Hattingh en Jarred Gibson. Foto: Verskaf.

Suid-Afrika se roeiers het gister hul spiere by die Afrikaspele gebult om vinnig twee medaljes op te raap.

Louis Hattingh en Jarred Gibson, wat deur Craig Mustard in Pietermaritzburg afgerig word, was die enigste Suid-Afrikaanse roeiers in die water, maar hulle het hul stempel ordentlik afgedruk deur die goue medalje in die K2-1 000 m-item te wen.

Hattingh het ook ’n silwermedalje in die individuele 1 000 m-item losgeroei.

In die K1-resies het Hattingh sy tweestryd met Tunisië se Mohamed Mrabet voortgesit nadat albei hul uitdunrondes heel gemaklik gewen het.

In die finaal het Mrabet met die louere weggestap – daar was ’n verskil van 1,57 sekondes tussen hom en Hattingh.

Daar was nie veel tyd tussen Hattingh se individuele resies en die dubbelspaanwerk saam met Gibson nie.

“Die tydperk tussen die twee items was nie baie lank nie. In die oggend het ons net ’n uur gehad om voor te berei ná Louis se K1-finaal en vir ons eindstryd was daar selfs minder tyd om op te warm,” het Gibson gesê.

“Tog was die resies iets wat ons altyd sal onthou omdat ons ’n goue medalje vir Suid-Afrika gewen het.”

Volgens Gibson het die winderige toestande roeiwerk bemoeilik en hul tegniek is tot die uiterste getoets.

“Ons het normaalweg ’n wedstrydplan, maar dit is vrek moeilik om daarby te hou as die wind só sterk waai en ons glad nie kans gehad het om op te warm nie.”

  • Die roei-aksie duur voort met Gibson en Crisjan Coetzee wat later in aksie sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.