Rofstoei se moses, daar was hoë-oktaanaksie by EFC 81

Dáárdie skop! Foto: EFC/Anton Geyser.

As jy ooit gewonder het of hulle mekaar regtig gedurende ’n hokgeveg slaan, moes jy net Saterdag by EFC 81 in Pretoria gewees het. Want in ’n era waar mense vasgenael voor hul televisie sit om die nuutste rofstoei-sepie te volg, is die Extreme Fighting Championships die wáre Jakob.

Trouens, jy hoef net deur ’n paar minute se hoofgevegte-aksie gesit het om agter te kom dat hulle mekaar góéd gas gee.

Die tweede ronde van Asiashu Tshitamba en Billy “The Kid” Oosthuizen se geveg het skaars begin of Tshitamba het Oosthuizen met ’n super skop teen die kaak getref.

Oosthuizen, wat tot daardie oomblik heel skaflik baklei het, het vir ’n sekonde of twee soos ’n 70-jarige rock-ster – wat ’n lékker aand agter die blad het – op sy voete gesteier, maar het kort daarna soos ’n sak aartappels neergeslaan. Dit is ook maar goed dat EFC-aande deur Restonic – ’n matrasfabriek – geborg word.

Byna onmiddellik het die toeskouers – sommige in ontwerperspakke en ander in Tap Out T-hemde – soos een man opgestaan en luidkeels vir Tshitamba toegejuig.

Langs jou was daar ’n EFC-nuweling en ’n verbaasde, sowel as bekommerde “genade, maar hulle slaan mekaar so wrágties”, is gehoor.

Zulu teen Jacobs vanuit ’n toeskouer se oogpunt. Foto: Luzanne Lawrence.

“Ek het daardie skop al vir ’n hele ruk geoefen. My afrigter het vir my gesê ek moet dit doen, en ek hét,” het Tshitamba gesê. Duidelik in sy noppies.

Volgende op die EFC-spyskaart was Lyle Karam en Stefan “The Kick” Pretorius.

Karam – wat deesdae in Australië oefen – het sy vyfde agtereenvolgende oorwinning behaal toe die gevegbeoordelaars beslis het dat hy die meeste punte in dié wipplankstryd verdien het.

Tussendeur het Anicent Kanyeba, bietjie strydig met die meeste van die toeskouers se telkaarte, vir Dino Bagattin geklop. Veral een blok ondersteuners was baie verbaas en waarskynlik net Bagattin was meer oorbluf as hulle toe die skeidsregter Kanyeba se hand ná die geveg omhoog gehou het.

Dan het Pierre Botha net 17 sekondes nodig gehad om vir Tumisang Madiba te wen. Botha het Madiba met ’n goeie opstopper getref en dit opgevolg met verdere houe. Skeidsregter Bobby Karagiannidi het tussenbeide getree en het die geveg – met ’n verontwaardige Madiba wat protes aanteken – gestop.

“Ek het hom rêrig hard geslaan. Hy kan maar sê wat hy wil, maar hy het homself nie verdedig nie,” het Botha gesê.

Faeez Jacobs se hand word omhoog gehou. Foto: EFC/Anton Geyser.

Die hoofdis op die spyskaart was egter die geveg tussen Faeez Jacobs en Nkazimulo Zulu vir die kapokgewigtitel.

Die twee het mekaar vir vyf rondes opgedreun, met die groentjie Jacobs wat uiteindelik met die louere weggestap het.

“Ek kan nie beskryf hoe dit voel om die titel te wen nie. Drome word werklikwaar ’n realiteit,” het Jacobs gesê.

Die EFC-aande is aksiebelaaid en die atlete beskik oor meer as genoeg talent om dinge interessant vir die toeskouers te maak. Voeg daarby ’n paar kreatiewe bekgevegte, byname en intromusiek wat jou sommer self lus maak om ’n paar ysters in ’n gimnasium te buig; en jy sit met ’n baie lekker en vermaaklike aand.

  • EFC 81 se uitslae:
  • Robert Swanepoel klop vir Given Majuba
  • Christine Wolmarans klop vir Yebo Ban Ntambwe
  • Roy Lokolo klop vir Khulekani Hlongwa
  • Rodrique Kena klop vir Elvis Ngwalangwala
  • Asiashi Tshitamba klop vir Billy Oosthuizen
  • Lyle Karam klop vir Stefan Pretorius
  • Anicet Kanyeba klop vir Dino Bagattin
  • Faeez Jacobs klop vir Nkazimulo Zulu
  • Die volgende aand is op 28 September by Carnival City in Johannesburg. Kaartjies is binnekort by computicket.com beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.