Roger Federer uit Franse Ope

Roger Federer. Foto: Twitter.

Roger Federer, die 38-jarige Switserse tennislegende, sal vanjaar se Franse Ope op Roland Garros weens ’n kniebesering misloop.

Federer het skaars ’n week of wat gelede saam met Rafael Nadal ’n nuwe tennisbywoningsrekord opgestel toe meer as 51 000 ondersteuners hul vertoonwedstryd in Kaapstad bygewoon het.

Hy het egter getwiet dat sy regterknie hom al geruime tyd pla en hy het Woensdag in Switserland ʼn operasie ondergaan.

“Ek het gehoop dat die ongemak sou weggaan, maar ná ’n deeglike ondersoek het ek besluit om ’n operasie te ondergaan,” het hy getwiet.

Hy het bygevoeg dat die medici tevrede is met die prosedure en dat hulle vol vertroue is dat hy vinnig sal herstel.

“Ek sal egter ongelukkig die toernooie in Dubai en Miami, sowel as die Indian Wells en die Franse Ope misloop. Ek is dankbaar vir almal se ondersteuning en kan nie wag om weer te speel nie. Sien julle op die grasbane!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.