Roger Federer vier 39ste verjaardag

(AP Photo/Alastair Grant)

Roger Federer het Saterdag sy 39ste verjaardag gevier. Die Switserse tennislegende hou die rekord vir die meeste Grand Slam-titels (20) en deelname (31) aan Grand Slam-eindstryde.

Vroeër vanjaar het hy ook die rekord vir die meeste toeskouers by sy Match in Africa-liefdadigheidskouspel verbeter toe bykans 52 000 entoesiastiese tennisliefhebbers gekyk het hoe hy Rafael Nadal in Kaapstad aangevat het.

Tog is die ouderdom besig om sy tol te eis, veral wat beserings betref.

Hy het vroeër vanjaar ’n knie-operasie ondergaan en hy het in Junie op sosiale media aangekondig dat hy nie in verdere toernooie vanjaar in aksie sal wees nie.

“’n Paar weke gelede het ek ietwat van ’n terugslag in my rehabilitasie    proses beleef. Nou, net soos wat ek in die aanloop tot die 2017-seisoen gedoen het, wil ek voldoende herstel om my bes op die hoogste vlak te lewer,” het hy op Twitter geskryf.

Hoewel dit beteken dat hy spogtoernooie soos die Amerikaanse en Franse Ope sal misloop, is daar Federer-hoop op die horison.

Foto: Facebook.

“Ek sal my ondersteuners en die toernooie baie mis, maar ek sien ongelooflik daarna uit om almal weer aan die begin van die 2021-seisoen te sien.”

Hy het onder meer ook aangedui dat hy van plan is om by die Olimpiese Spele weer die Switserse medalje-aanslag te lei.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het ’n stokkie voor vanjaar se Spele gesteek en die internasionale skouspel is tot 2021 uitgestel.

“Ek is mal oor Tokio; dit is ’n wonderlike plek. Natuurlik is dit ’n groot teleurstelling dat die Spele uitgestel is, maar ons is vol hoop dat dit wel volgende jaar kan voortgaan. Dit is my doelwit om deel van die Olimpiese Spele te wees; dit het nog altyd vir ’n ongelooflike storie gesorg,” het Federer gesê.

Sy afwesigheid sal egter in New York gevoel word wanneer die Amerikaanse Ope te midde van streng gesondheidsreëls op 31 Augustus begin.

Nadal, die verdedigende kampioen, sal ook die toernooi misloop. Dit sal dus die eerste Grand Slam in 20 jaar wees waar nie Federer of Nadal in aksie is nie.

Rafael Nadal spring oor die net tydens sy wedstryd teen Roger Federer in Kaapstad. (Foto: AP /Halden Krog)

Oostenryk se Dominic Thiem, die wêreld se derde beste speler, het juis in ’n onlangse onderhoud gesê dat die Amerikaanse Ope bietjie van sy waarde en glans inboet omdat Federer en Nadal nie teenwoordig is nie.

Volgens Federer se afrigter, Severin Luthi, is hy egter nog so lief soos altyd vir tennis; 31 jaar nadat hy vir die eerste keer as agtjarige begin speel het.

“Ek het nog nooit vir Roger hoor sê dat hy wil ophou speel omdat hy sy lewenstyl wil verander of omdat hy moeg gereis is nie.”

“Niks is definitief nie, maar die feit dat hy steeds mal is oor die sport sowel as die tyd wat hy saam met vriende van reg oor die wêreld kan deurbring, laat my nie dink hy sal in 2021 sy uittrede aankondig nie,” het Luthi gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.