Roger nou 44ste op ATP-ranglys

Roger Federer. Foto: Fabrice Coffrini/AFP.

Tennisliefhebbers sal Roger Federer se laaste mededingende wedstryd nog goed onthou.

Dit was op 7 Julie 2021 in die kwarteindstryd van sy geliefde Wimbledon-toernooi teen Pole se Hubert Hurkacz.

Die Switserse tennislegende, toe 39 jaar oud, het moedig probeer om sy stempel in die tweede stel af te druk, maar dit was net nie goed genoeg nie.

In die laaste stel kon hy nie ’n enkele pot wen nie en die eindtelling van 6-3, 7-6 en 6-0 het ’n mens net weer opnuut laat besef dat tyd vir niemand stilstaan nie.

Selfs al is jou naam Roger Federer.

“Om eerlik te wees, ek weet nie of dit my laaste Wimbledon was nie. Hubert het goeie tennis gespeel en veral in die laaste stel het ek nie geweet of ek my pad weer sal kan oopveg nie. Ek is nie gewoond aan só ’n situasie nie. En veral nie op Wimbledon nie,” het Federer ná daardie drag slae beken.

Sedertdien het sy kniebesering hom uit ’n hele paar groot toernooie gehou en hoewel daar altyd sprake van ’n terugkeer is, moet sy speeldae-uurglas nou baie naby aan leeg wees.

Hy is tans 44ste op die ATP-ranglys.

Om bogenoemde stelling in perspektief te plaas: Dit is sy laagste ranglysposisie in amper 22 jaar en spelers soos Botic van de Zandschulp en Karen Khachanov is tans bó die veelvoudige Grand Slam-wenner op die ranglys.

Roger Federer groet die toeskouers ná hy op Wimbledon uitgeskakel is. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Tog lyk dit of “uittrede” nie nou al deel van Federer se woordeskat is nie en daar is ’n moontlikheid dat hy weer gereed vir die Amerikaanse Ope (wat op 29 Augustus begin) sal wees. Hy het ook al vantevore aangedui dat hy dubbelspelwedstryde saam met Rafael Nadal in die Laverbeker-stryd wil speel.

Dit beteken egter dat hy nie deel van die aksie by Wimbledon sal wees nie.

’n Vreemde gedagte.

Want vir die afgelope paar jaar was Roger Federer Wimbledon en Wimbledon was Roger Federer.

Tog het die einste Nadal hom vroeër geïnspireer.

Federer was van die eerstes om Nadal met sy 21ste Grand Slam-titel in Melbourne geluk te wens en ’n mens het die idee gekry dat die Spanjaard se hernieude aanslag die Switserse ster weer hoop vir ’n suksesvolle terugkeer gegee het.

Die 35-jarige Nadal het aanvanklik gevrees dat sy loopbaan iets van die verlede is nadat sy voetbesering hom lank langs die baan gehou het.

Hy het egter ’n rits agtereenvolgende wedstryde gewen en hy is nou die voorloper in die Grand Slam-resies met Federer en Novak Djokovic.

“Dit is verstommend om te dink dat ons al twee net ’n paar maande gelede mekaar oor ons krukke geterg het. Wys jou net: ’n Mens moet nooit ’n groot kampioen onderskat nie,” het Federer destyds getwiet.

Dalk is die tenniswêreld nog nie gereed om ’n huldeblyk oor Roger Federer se loopbaan te skryf nie, maar ’n ode is sekerlik wel van pas, of hoe?

Soos wat Richard Gasquet tereg opgemerk het – Federer laat tennis goed lyk.

Foto: AP Photo/Tim Ireland

“In my oë is hy onvervangbaar – veral wat die estetiese waarde van sy spel betref. Dit is die hoofrede waarom ek tennis kyk. Dit gaan nie vir my oor ’n spul Grand Slam-titels nie – volgens my het Roger geen gelyke nie. Hy is die Lionel Messi van tennis,” het die Fransman gesê.

Soms is ’n fotoalbum vol mooi herinneringe egter van meer waarde as ’n uitgerekte loopbaan. Soos Boris Becker vroeër gesê het – hy het nie meer nodig om homself aan enigiemand te bewys nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moedeloos ·

Groot Rodger fan. Solank hy nog sy tennis geniet kan hy vir my part 100ste op die ranglys wees. Hierdie mense se hul glorie dae gehad en hul weet dit. Nou is dit net die lekkerte wat hul laat aanhou speel.

piet ·

Tyd om te gaan. Om verder te speel gaan sy reputasie benadeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.