Roger, Rafa en Novak na volgende ronde

Roger Federer. Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP.

Roger Federer se Franse Ope-stryd teen Kroasië se Marin Cilic kan met ’n onvoorbereide wiskundetoets vergelyk word wat ’n akademies begaafde leerder moet skryf.

Hy het die eerste vraag verspot maklik voltooi, maar met die tweede gesukkel terwyl ’n paar dinge (soos ’n skeidsregter wat kla dat hy tyd mors) ook sy aandag afgetrek het. Tog het hy uiteindelik die “toets” met vlieënde vaandels geslaag om die wedstryd met 6-2, 2-6, 7-6 en 6-2 te wen.

“Ek het myself eintlik ’n bietjie verras; nooit gedink dat ek nog soveel energie sal oorhê teen die einde van die wedstryd nie,” het die 39-jarige ster gesê.

Hy was veral beïndruk met sy afslane. Federer was uiteindelik in die kol met 16 kishoue.

“Ek het hierdie wedstryd teen Marin nodig gehad. Ek begin met baie meer selfvertroue op die baan beweeg. Dit sal nou interessant wees om te sien hoe my lyf ná so ’n wedstryd sal reageer.”

Federer sal hierna teen Duitsland se Dominik Koepfer te staan kom.

Dan het Rafael Nadal sy 35ste verjaardag met ’n goeie sege teen Richard Gasquet gevier. Die verdedigende kampioen het die wedstryd verspot maklik met 6-0, 7-5 en 6-2 gewen.

“Ek is baie tevrede met my vertoning en veral met my spel in die eerste stel. Dit was amper foutloos en ek beskou dit as een van my beter vertonings op ’n kleibaan vanjaar,” het Nadal gesê.

Die Spanjaard speel hierna teen Cameron Norrie – die man wat Suid-Afrika se Lloyd Harris uitgeskakel het – in die derde ronde van die toernooi.

Novak Djokovic, die wêreld se voorste speler, het ook moeiteloos sy wedstryd teen Argentinië se Pablo Cuevas gewen. Die eindtelling was 6-3, 6-2 en 6-4 in die Serwiër se guns.

“Ek speel en voel goed; hopelik kan ek ver in die toernooi vorder. Ek konsentreer egter op een wedstryd op ’n slag, maar ek is baie tevrede met die intensiteit van my spel.”

Djokovic sal in die volgende ronde teen Ricardas Berankis te staan kom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.