Roger realisties ná Genève-nederlaag

Roger Federer in aksie in gister se wedstryd. Foto: Fabrice Coffrini/AFP.

Roger Federer het gister in sy eerste wedstryd van die Genève-ope met 6-4, 4-6 en 6-4 teen Pablo Andújar verloor.

Dit was die 39-jarige tennisster se derde wedstryd van die jaar sedert hy sy terugkeer na verskeie knie-operasies gemaak het.

Met die Franse Ope om die draai, het Federer gesê dat hy nie ’n kans staan om vir Rafael Nadal in Parys te onttroon nie.

Die 34-jarige Spanjaard sal poog om sy 14de titel op Roland-Garros te wen nadat hy in verlede jaar se eindstryd die vloer met Novak Djokovic gevee het.

Hy het juis in die afgelope Italiaanse Ope weer met die wêreld se voorste speler afgereken om sy tiende titel in Rome in te oes.

Gewapen met hierdie kennis van sy grootste teenstander se spelpeil, is Federer realisties oor sy kanse in Frankryk.

“Wanneer ’n mens so min gespeel het en jy jou eie vermoë ken, hoe kan jy daaraan dink om die Franse Ope te wen?”

Volgens Federer weet hy dat hy as speler tot baie meer in staat is as wat hy in die Andújar-nederlaag gewys het.

“Dit is ’n snaakse gevoel en dit is ongelooflik teleurstellend, maar terselfdertyd is dit ook deel van die proses waardeur ek moet gaan. Ek kan nie te lank hieroor tob nie; ek moet weer aan die gang kom.”

Tog is ’n goeie Franse Ope-vertoning nie die doelwit nie; sukses op Wimbledon is wel.

Federer het al agt van sy 20 Grand Slam-titels daar gewen en net soos Djokovic in Australië en Nadal in Frankryk, speel hy altyd sy beste tennis daar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moedeloos ·

Jy bly my hero. Almal het n afdag. Jy sal jou kop oplig en voortgaan. Sterkte Rodger

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.